top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Swaarkry

deur Marietjie Joubert

Ek lees in die dagboek van John Newton, skrywer van die lied Amazing Grace, dat swaarkry soos ’n bondel hout is wat jy saam met jou dra. Die moeilikheid is net dat ons vergeet dat ons net een enkele stokkie het om te dra vandag. Ons wil so graag die hele bondel stokke elke dag saamsleep. Ons hoef nie verlede jaar, of gister of selfs môre se bondel ook saam te dra nie.

Ons lees in Matteus dat God ons uitnooi om by Hom te kom sit as ons moeg en moedeloos is. Ons moet ons bondeltjie stokke by Hom gaan neergooi en rustig word. Ek dink die meeste van ons verstaan hierdie uitnodiging en ons doen dit wanneer ons moeg is en deur moeilike tye gaan. Ons gaan sit by God se voete met ons bondels sorge, verdriet, frustrasies en ongeluk.

Ek dink die probleem kom wanneer ons opstaan en wegstap. Ons het nou gebid en al ons moeilikheid vertel vir die Here en dan staan ons op en neem die hele bondel weer saam met ons. Ons dra vir hom weer al die pad saam met ons. Dis asof ons nie die naelstring met die bondel swaarkry kan knip nie. Ons verstaan nie die begrip van die laaste gedeelte van die teksvers nie. God sê kom na my toe as jy moeg en moedeloos is en nie meer weet watter kant toe nie. En dan sê Hy, want Ek gee rus. Dis daardie stukkie wat ons heeltemal ignoreer. Ja, ons gaan sit by die Here, ons vertel Hom alles en dan as ons klaar is vat ons alles weer saam en vind geen rus nie. Dis hoekom jy nie kan slaap nie. Dis hoekom jy knoppe in jou nek het. Dis hoekom daardie spanning op jou maag nie wil wyk nie.

Ons moet leer om die Here te vertrou. Ons mag maar daardie bondel hout by hom los. Hy nooi ons dan uit om dit te doen. Dis ons wat graag swaar wil dra.

Ons moet leer om elke dag net dit te dra wat nodig is. Jy hoef nie die hele jaar se swaar saam te dra nie. Los dit by die Here. Vertrou Hom. Slegs dan sal jy rus vind!

bottom of page