Van terminale armoede tot hemelse genade
deur Stephan Joubert
Ekerk deel elke maand kospakkies uit aan ’n aantal bejaardes in ’n ouetehuis. Verlede week het een van ons wonderlike helpers dit oudergewoonte gaan doen. Toe hierdie helper by een tannie se deur aanklop, bars sy uit in trane. Haar yskas was dolleeg! Daardie oggend het sy letterlik haar laaste kos opgeëet. Sy het nie geweet waar die volgende ete vandaan sou kom nie. Toe onthou ek die verhaal van die weduwee van Sarfat. 1 Konings 17 vertel hoedat sy haar heel laaste ete voorberei vir haar en haar kind. Terminale armoede het hulle ingehaal. Al wat sy oorgehad het, was ’n hand vol meel en ’n klein bietjie kookolie. Dan was alles oor en verby. Geen ekstra kos nie; geen laaste kans om iewers nog iets ekstra te bekom nie. Sy en haar kind sou nog een keer eet en kort daarna sterf van die honger!
Die weduwee van Sarfat het haar egter met God misreken. Sy profeet Elia het tydens haar voorbereidings vir haar “afskeidsete” opgedaag daar in Sarfat. Toe vra hy vir haar om vir hom ’n stukkie brood te gee. Die weduwee was stomgeslaan! Haar laaste ete was op hande en nou moes sy dit boonop deel met ’n vreemdeling. Toe deel sy eerder haar tragiese storie vir hom. Elia het dadelik geantwoord: “Moenie bang wees nie!” Sy moes ’n roosterkoek vir hom maak, asook vir haar en haar kind. Die Here sou sorg dat haar meel en olie nie opraak nie totdat die droogte in die land gebreek is. En Hy het ook! God is altyd betyds. Hy daag op met vandag se brood by elke dag wat bekendstaan as vandag. Tog moet ons aanmeld as sy aardse werktuie. So nie, gaan daar dalk te min arbeiders gedurende hierdie feestyd aan diens wees om sy hemelse gawes te help uitdeel. Onthou, om diens te doen as een van die Here se aardse kelners, is ’n geseënde roete.