Die Here se seëninge het ook hande en voete
deur Stephan Joubert
“Na my man se dood het my lewe geen sin gemaak nie,” vertel die tannie my. Toe gaan sy voort:
“Later het ek ophou kosmaak en mooi aantrek. Op ’n dag loop ek deur ’n winkelsentrum en kyk lusteloos na nuwe stowe wat mense by ’n stalletjie verkoop. Uit die bloute vra die jong verkoopsman of ek van die stoof hou. Toe ek begin wegstap, loop hy agter my aan,” vertel sy.
“Tannie, hierdie stoof is tannie s’n.”
“Hoekom?”
“Tannie, dit voel of die Here wil hê ek moet dit vir tannie gee,” antwoord hy.
Toe is die dame daar weg met ’n gratis, peperduur stoof. Asof uit die bloute het die Here se vreemde genade daardie oggend haar lewe met nuwe hoop gevul. “Nou lag ek weer,” sê sy.
Soms is die lewe so hard soos klip. Dan maak niks meer sin nie. Tog vergeet die Here nooit sy aardse eiendom nie. Hy ken ons diepste seer en grootste alleenheid. Dan stuur Hy sy genade in verskillende vorms en verpakkings na ons toe. Dikwels is ander mense die sigbare uitdrukkings hiervan. Wil jy nie ook toelaat dat die Here jou as sy lewende noodhulp gebruik nie. Hy wil graag iemand anders deur jou seën.