Dit gebeur
deur Stephan Joubert
Genade gebeur hier en nou! Genade vertel dat die Here my verniet liefhet sonder dat ek iets kan doen om dit te koop of verdien. Philip Yancey (What’s So Amazing About Grace? 2001) sê daar’s niks wat ons ooit gedoen het, tans doen, of in die toekoms kan doen wat sal maak dat God ons meer of minder sal liefhê nie. Hy het ons in elk geval lief. Genade is God se Nuwe Genesis na elke slegte Eksodus wat ekself aangepak het. Genade is wanneer God my nie net maar nog ’n hoeveelste kans gee nie, maar wanneer Hy self die kanse skep én die kanse vat om die hemelse sluise bokant my lewe oop te trek.
Genade is voelbaar. Wanneer my lewe die slag so stukkend is dat selfs die godsdienstiges my met klippe wil doodgooi, dan weet ek presies hoe lyk en voel ’n vermorste lewe. Maar dan weet ek ook hoe voel hemel op aarde, want Jesus is bereid om oor ook en voor met my te begin. Sy sagte hemelse uitveër waarmee Hy al my foute en sondes in een oogwink uitvee is genade in lewende lywe.