Goeie raad vir pap rekke (Deel 2)
deur Stephan Joubert
Habakuk skop sy profetiese loopbaan op ’n laagtepunt af. Sy rekke is pap. Hy kla dat dit so klap is in hoofstuk een van sy boek. Maar dan doen hy die regte ding. Hy rig vir hom ’n uitkyktoring op en begin wag op die Here. Habakuk verskuif vanaf klagter tot wagter. Dan antwoord God. Nog meer, Hy openbaar Sy heerlikheid aan sy profeet. In een oogwink verander alles. Terwyl Habakuk 1 net oor die profeet se ongelukkigheid en vrese handel, skuif alles nou in hoofstuk 3 na God se grootheid en almag.
God antwoord nie sy kneg met rasionele antwoorde oor hoekom die lewe so onregverdig is en hoekom dit lyk asof Hyself soms afwesig is nie. God laat Homself vind deur elke soekende, wagtende profeet. Habakuk se pap rekke en sy stortvloed van klagtes bots kop aan KOP in die lewende God. Dan kom sy rustelose hart tot rus. Habakuk beleef die Here se almag wat die waters laat bruis en die berge laat skud en beef... En wat al sy vrae stilmaak.
Om te wag lei tot krag. Die regte wag lei altyd tot ’n nuwe ontdekking van God se hart. En tot rus in Hom. O ja, ook tot ’n nuwe loflied te midde van chaos, soos wat Habakuk dit in 3:17-18 uitjubel. “Al sou die wingerde nie vrug oplewer nie en al sou die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel en juig in God my Redder.”
Van ’n pap-rek klagter tot ’n geduldige wagter — so loop Habakuk se geloofsgroei-roete. Nee, dit gaan nog een tree verder. Dit strek vanaf wag tot ’n nuwe belewenis van die lewende God. Teen die einde van Habakuk 3 leer God se profeet opnuut loop, maar hierdie keer met ribbok-voete. Hy het immers nou geleer dat die Here nie afwesig is op gevaarlike plekke nie.
Dit is maklik om veilig te loop in veilige plekke; dis iets totaal anders om op hoë plekke veilig te loop. Leer by Habakuk. Ontdek dat die Drie-Enige God Hom altyd laat vind. Hy leer sulke knegte nuut en veilig loop.