“We’re gonna make the best of it, like we do”
deur Skillie Jacques Botha
’n Rukkie terug het ek en my vrou ‘World War Z’ gekyk. (’n Awesome zombie fliek by the way, as dit jou vibe is).
Brad Pitt se karakter (Gerry) moes sy vrou en kinders agterlaat op ’n skip om ’n oplossing te gaan probeer vind teen die gevaar wat gedreig het. Soos hy sy vrou gegroet het, het hy die volgende woorde vir haar gesê: “We’re gonna make the best of it, like we do.” Die eerste ding wat my vrou vir my sê: “Ons MOET daai quote teen die muur op sit iewers!” Ek kon nie anders as om saam te stem nie en dit het my gedagtes vreeslik aan die gang gesit oor om die beste te maak van ongeag watse situasie ons onsself in bevind.
Almal het unieke stories met verskillende karakters en situasies (’n mengelmoes van goeies & slegtes), maar as volgelinge van Jesus, het ons dieselfde Hoop waarop ons kan vertrou. In Hebreërs 12:2 kry ons wysheid in God se Woord oor moeilike tyding en wanneer ons sukkel om op Jesus as die middelpunt van ons lewe te konsentreer. Ons lees daar dat ons net hoef te dink aan Jesus se voorbeeld en die pad wat Hy gestap het terwyl Hy as mens hier op aarde was — “Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel.”
Hoe kan ’n mens nie gemotiveer en geïnspireer wees na jy dit gelees het nie?
World War Z eindig waar Gerry weer by sy vrou en kinders uitkom. Dis net trane van blydskap en stywe drukkies waar jy kyk. Na alles wat hulle moes deurgaan, is hulle weer bymekaar en dit maak alles die moeite werd. Net so sal ons met God verenig word in Sy koninkryk — en die swaarkry hier op aarde is nie ’n patch teen die goeie vibe wat vir ons wag saam met Jesus in die hemel nie!
Hou moed, moenie bang wees nie, en hou met alles wat jy het aan die Here se hand vas. Met daardie leefstyl kan jy baie makliker die beste van enige situasie maak.