top of page

Sy pad = die moeite-werd-pad

deur Milanie Vosloo

“ ... Al hierdie dinge sal gebeur omdat Abraham geluister het toe Ek met hom gepraat het. Hy was lewenslank aan My getrou: hy het reg geleef, hy het my voorskrifte uitgeleef en gedoen wat Ek hom geleer het.” — Genesis 26:5

God wil ons so graag seën: met sy teenwoordigheid, liefde en sy goedheid en sy genade dag na dag oor ons stort ... as ons Hom net wil toelaat. Want heel dikwels loop ons God se seën mis omdat ons van Hom af wegbeweeg het, nie sy leiding volg nie en nie binne sy wil vir ons lewens leef nie.

Onthou vandag:

  • God se pad vir ons lewens is nie altyd die maklike weg nie, maar dis altyd die moeite werd om dit te volg;

  • Ons Vader se manier van dinge doen lyk soms vreemd en kan selfs onverstaanbaar wees, juis omdat Hy iets beters vir ons in gedagte het;

  • Die manier hoe Hy ons seën is nie noodwendig gelyk aan wêreldse voorspoed nie; dit is heel dikwels eerder die dinge wat jou hart seën.

  • As jy soms iets “verloor” omdat jy Hom liefhet, sal jy eendag besef dat niks daarvan in die eerste plek die moeite werd was om te hê nie.

Wanneer dit jou opregte begeerte is om God se wil te doen, sal jy dikwels op verskillende maniere God se stem hoor wanneer Hy vir jou sê: “Ek sal saam met jou trek en jou voorspoedig maak...” Gen 26:3b

Hemel-God, ek wil so graag binne U sfeer-van-seën leef. Help my daarmee asseblief.

bottom of page