Raad vir pap rekke (Deel 1)
deur Stephan Joubert
Teen hierdie tyd van die jaar is almal se rekke pap. Iemand sê onlangs vir my sy boekie vir 2013-krisisse is reeds propvol. Hy kan nie meer een ekstra stukkie moeilikheid vat nie.
Van pap rekke gepraat, die profeet Habakuk het presies dit beleef as hy die eerste hoofstuk van sy profetiese boek skryf. Hierdie vergete Bybelse profeet het moeilikheid geken. (Of dalk is dit andersom!) In elk geval, sy profetiese loopbaan het nie te goed afgeskop nie. Die eerste hoofstuk van sy boek is deurtrek met klagtes. Hy kon God se groot stilte oor al die chaos in sy eie dag nie langer vat nie.
Habakuk was ’n tydgenoot van groot profetiese kanonne soos Jeremia, Nahum en Sefanja. In sy dag was ’n korrupte koning, genaamd Jojakim, aan die bewind. Boosheid, misdaad en korrupsie het orals geseëvier terwyl respek vir die wet van die Here in die sand weggesyfer het. Tussendeur het oorlogswolke rondom Jerusalem saamgepak. Die magtige Babiloniese weermag, oftewel die Galdeërs soos wat hulle in Habakuk 1 genoem word, was oppad.
Terwyl Habakuk behoorlik keel skoongemaak het oor God se “stilte” te midde van al die onreg in sy dag, het hy een lewensbelangrike les geleer. Dit deel hy aan die begin van hoofstuk 2. Habakuk het naamlik besef hy moet ’n uitkyktoring vir homself oprig. Hy moet leer om te wag op die Here en ophou fokus op alles wat verkeerd is rondom hom. Presies dit is wat God verwag van sy pap-rek profeet... en van ons elkeen. Ons almal kort ’n geestelike uitkyktoring. Ons kort ’n nuwe vestingmuur waaragter ons kan wag op die Here.
Aan die Here se voete kom moeë mense tot rus. Wanneer ons ons laste aan sy voete neersit, word daardie woede in ons algaande vervang met kalmte. Frustrasie maak plek vir tevredenheid... en bitterheid vir vrede. Om op die regte wagmuur te staan, is egter meer as net ’n rus; dit gaan oor rus in die Here. Op sy wagmuur wag ons nooit op dinge nie, ons wag op die lewende God!