Verstaan kerkwees vars
Deur Stephan Joubert
Vandeesweek se Goeie Nuus het ek op 4 November in die dagblad Beeld geskryf. In die lig van heelwat gesprek wat dit veroorsaak het, sluit ek dit graag in as ons Goeie Nuus gesprek vir hierdie week:
“We’re not leaving the church because we don’t find the cool factor there; we’re leaving because we don’t find Jesus there,” skryf Rachel M. Evans onlangs in ’n opspraakwekkende blog op CNN Religion. Sy vertel daarin hoekom die millenniumgenerasie, oftewel mense tussen 18 en 29 jaar, kerkverlaters is. Volgens Evans soek hulle nie ’n verandering in kerkstyl nie, maar in substansie. Nie nog vermaak nie, maar nuwe betrokkenheid by die nood van die dag. Nie nog stryde oor die doop, die uitverkiesing of seksualiteit nie, maar gelowiges wat heeltyds in daardie einste wêreld betrokke raak waaroor hulle so preek, sing en skryf.
Nie nog kerklike eenstop-religieuse dienste of dreigende predikers wat geen duim invloed het nie.
Ek is nie van dié generasie nie. My generasie is kerkgeboumense. Hulle praat graag van kerkgeboue as die huis van die Here. Hulle meet kerklike betrokkenheid veral aan die aantal mense wat sit-sit-so by kerklike aksies en aktiwiteite opdaag. Kerk speel vir hulle grotendeels af in ’n voorspelbare, veilige godsdienstige sfeer van waar die wêreld “bereik” moet word. Hul kerklike byeenkomste en vergaderings is grootliks gefokus op “huishoudelike” sake soos die regte belydenisse, godsdienstige musiek, kerklike ordes en die bestuur van kerklike personeel.
Die radikale navolging van Jesus; daadwerklike hulp aan noodlydendes en betrokkenheid by die lewensbestaanvrae van Suid Afrika is nie allesoorheersend vir die kerkgebou-generasie nie.
Sulke vrae is nie afwesig nie, maar dit word dikwels verskraal tot een punt op ’n agenda wat rustig verwys kan word na ’n kommissie van ondersoek.
Daarom is opmerkings soos dié van Reggie McNeal (The Present Future) vir hulle ondenkbaar: “A growing number of people are leaving the institutional church for a new reason. They are not leaving because they have lost their faith. They are leaving to preserve their faith.” Indien ons almal die waagmoed sou hê om te verskuif na ’n vars verstaan van kerkwees as ’n gemeenskap van nuut gemaakte mense wat op ongekarteerde terrein agter Jesus aanloop, sal kerklike trefkrag drasties verhoog. Dit is presies wat missionale kerkwees behels. Nee, dié is nie ’n nuwe kerklike modeterm nie.
Die vroegste Christene was reeds missioneel bedraad. Hulle het geen religieuse ruimtes, genaamd kerkgeboue, besit nie. Of professionele personeel wat medegelowiges voltyds ter wille moes wees nie. Christene was ver in die minderheid en het van die rand van die samelewing af ander gedien.
Die leiers van die vroegste kerk was nie priesters nie, maar profete, evangeliste, apostels, herders en leermeesters (aldus Efesiërs 4). Dié leiers het nie in tempels rondgehang en gewag op geestelike “kliënte” nie. Gelowiges en hul leiers was mense van die pad, soos wat buitestanders hulle in Handelinge 9 omskryf het. Hul geloof het hulle die wêreld vol laat loop, dien en liefhê.
Die vroeë kerk was uitverkoop aan Jesus en sy sending om God se koninkryk om elke hoek en draai sigbaar te maak.
Hulle was verhoudingsmense wat begryp het dat God se liefde hul identiteit bepaal. Hul geloof het meegebring dat vreemdelinge, randfigure en soekendes graag ’n tuiste tussen hulle gevind het. Hier in ons tyd is ’n nuwe missionale identiteit dringend nodig om die huidige kerklike eksodus om te swaai. Of ons nou sogenaamde millennium- of kerkgebou-mense is, ons almal kort ’n nuwe identiteit. Ons almal moet heeltyds agter Jesus aanloop. Die vraag waarmee Jesus ons konfronteer, word aangrypend deur Bob Goff (Love does) verwoord: “Will you take what you think defines you, leave it behind, and let Me define who you are instead?”