Resensie van "Doing Business with Purpose: Beyond Success to Significance"
Ek is mal oor boeke, maar nie te groot op boekbesprekings nie. Tog kom daar nou en dan ’n boek by my lewe verby wat so ’n diep indruk op my laat dat ek eenvoudig nie anders kan as om hieroor te moet skryf nie. “Doing Business with Purpose: Beyond Success to Significance (2015), die outobiografiese getuienis van Francois van Niekerk, is presies so ’n boek.
Ek ken vir Francois al vir ’n hele paar jaar lank. Dit is my voorreg om hom gereeld in aksie te sien by die raad van die Mergon Foundation waarvan hy die voorsitter is. Vanaf my heel eerste kennismaking met Francois het daardie bekende profiel van ’n “Level 5 Leader” in my binneste geresoneer. Sy opregte geloof in Christus, sy nederige menswees en sy uitsonderlike vaardighede as besigheidsleier straal eenvoudig uit hom uit. Die wêreldbekender skrywer, Jim Collins, beskryf hierdie tipe leiers, wat organisasies en besighede dramaties in nuwe rigtings verskuif, in die Harvard Business Review van Julie/Augustus, 2005 (“Level 5 Leadership: The Triumph of Humility and Resolve”) as uiters nederige mense wat nooit enige erkenning vir hulleself opeis nie, maar wat die ystere wil en waagmoed het om organisasies vanaf “good” na “great” te verskuif.
Deur die loop van hierdie boek deel Francois sy eie lewensstorie op ’n maklik leesbare manier. Allereers doen hy afstand van enige behoefte aan persoonlike erkenning of eer. Hy gee dit dadelik waar dit hoort, naamlik aan die drie-enige God. Aangrypende verhale oor hoe die Here se vingerafdrukke vervleg is met die reuse sakebelange wat Francois uiteindelik tot Forbes International se grootste filantroop op die kontinent van Afrika laat uitstyg het, asook tot die ontvanger van ’n eredoktorsgraad in sake leierskap aan Unisa, maak boeiende leesstof uit.
Francois se getuienis van hoe hy op ’n dag in 1980 in desperaatheid 30% van sy maatskappy bemaak het aan die Here indien God hom sou help uit sy geldelike verknorsing, is aangrypend. Hy getuig hoedat God hierdie bankrot besigheid uit genade omskep het tot ’n besigheidsportefeulje van asemrowende omvang. Nooit was dit egter sy doel om ’n sake-empire rondom homself te bou nie, maar om slegs ’n nederige dienaar en bestuurder van God se huishouding te wees. Daarom dat Francois dit nog altyd kon regkry om vrygewig te leef en om sy besittings uitermate ruim in die saailande van God se koninkryk terug te ploeg.
Die 30% wat Francois op ’n dag aan die Here “beloof” het, het intussen aangegroei tot 70% en word direk deur die Mergon Foundation Trust besit. Alle inkomstes van hierdie trust word direk vir bedieninge binne die koninkryk van God aangewend. Gevolglik word dermiljoene rande jaarliks vanuit hierdie trust in bedienings en organisasies ingeploeg wat aktief in die Here se wingerd aan die werk is. Trouens, in 2015 het hierdie bedrag reeds sowat R90 miljoen per jaar beloop.
Vir Francois bestaan daar geen twyfel nie oor die feit dat God die beherende Aandeelhouer is in al die besighede waarby hy betrokke is. Sy vaste geloof in Christus as Heer troon uit bo-oor die besigheidsuksesse in sy aangrypende lewensverhaal. Wat ’n absolute getuienis van God se genade in die lewe van ’n doodgewone mens, een wat bereid is om sy eie eer ondergeskik te stel aan die eer van die lewende Here. Hierdie boek is ’n kragtige getuienis oor hoe een mens deur God gebruik kan word om ’n reuse impak op alle samelewingsterreine uit te oefen. In dieselfde asem bevat dit ’n klompie kosbare lewenslesse wat Francois in dié proses geleer het.
Indien jy belangstel om hierdie moet-lees boek te bekom, gaan asseblief dan die volgende webtuiste waar jy bestellings kan plaas: www.doingbusinesswithpurpose.com