top of page

Gereed vir die wederkoms? deur Johan Smith [resensie]

Ek weet van talle kollegas wat soos ek met groot vrug gebruik maak van CUM se “Ontdek & Beleef-Bybelstudie” vir kleingroepe en wyksgroepe van verskillende aard. Die reeks maak dit vir jou maklik omdat dit volledig is en vertrou kan word in terme van wat dit leer.

Johan Smit was vir baie lank ‘n predikant in groot gemeentes waar hy goeie ervaring opgedoen het. En daarom is sy Bybelstudie hier afgestem op die praktyk van gelowige mense wat hulle in verskillende situasies bevind.

Jy kry hier die volledige teks van 1 en 2 Petrus, wat dit gerieflik maak terwyl jy Bybelstudie doen. En in 25 studies word jy blootgestel aan twee belangrike briewe van Jesus se leidende (en impulsiewe) dissipel, Petrus.

Johan ontsluit elke gedeelte waarin die briewe opgedeel kan word sodat jy die onderskeie temas gemaklik kan identifiseer. Die briewe begin met ‘n lofprysing; van die mooiste in die Nuwe Testament kom in 2 Petrus 1:3-4 voor. Hierop volg die rede hoekom die brief geskryf word, as ‘n bemoediging aan mense wat hulle in ‘n daaglikse stryd bevind waar hulle soms die keuse moet maak vir of teen geloof in Christus, wat bepaal of hulle werk of ‘n kontrak kry of nie, en wat soms die keuse tussen lewe en dood was.

Petrus beklemtoon dat gelowiges onder nuwe bestuur is omdat hulle lewe aan die Oorwinnaar behoort.

Elke studie bestaan uit ‘n bespreking wat nuttige inligting verskaf om die gedeelte te verduidelik, en daarop volg ‘n klompie vrae vir besinning en bespreking. En dit maak die boek ideaal vir groepbespreking maar ook vir individuele studie.

Die studies neem nie spasie met onnodige besprekings op nie en jy word nie vermoei met inligting wat ‘n mens dikwels kry en wat nie werklik betrekking het op die betrokke Skrifgedeelte nie. Die woordekonomie van dié studie is voorwaar ‘n pluspunt.

En so ook die teologiese diepte, geskryf deur iemand wat verseker oor jare gereeld oor dié twee briewe gepreek het en studies aangebied het.

Gebruik met vrymoedigheid dié studiegids tot twee van die belangrike briewe in die Nuwe Testament.

bottom of page