top of page

Strategie vir Gebed deur Alan Kendrick & Stephen Kendrick [resensie]

Dié boek is geïnspireer deur dieselfde skrywers se “War Room”, ‘n fliek wat ook as ‘n boek gepubliseer is deur CUM, ook in Afrikaans as “Die Oorlogskamer”.

“Die Oorlogskamer” bevat die verhaal van Tony en Elizabeth Jordan en hulle ideale lewe wat uiteindelik gerealiseer het, tot hulle huwelik begin verbrokkel. Tony maak ‘n groot sukses van sy beroepslewe en leef hom uit daarin en sy vrou reageer hierop deur toe te laat dat bitterheid en sinisme haar verswelg. Voor die ongelukkige huwelik in ‘n egskeiding ontaard, gebeur iets.

Elizabeth ontmoet in die loop van haar werk ‘n weduwee wat haar uitdaag om nie toe te laat dat haar huwelik ondergaan nie. Sy leer haar om te veg vir haar huwelik, met alles in haar. En deur gebed as wapen in haar geveg te gebruik om haar man en dogter, en huwelik te red.

In dié boek wat daarmee saamgaan, kry jy dan ‘n strategie vir gebed, ‘n aksieplan wat jou toerus om ‘n kragtige gebedskryger te word. Die strategie bestaan uit verskeie dele: werwing, basiese opleiding, kondisionering, strategieë, teikens, ammunisie en versterkings. Ja, jy het die idee reg. Die boek handel regtig oor die ontwikkeling van ‘n strategie. Dié keer is dit net gerig op die strategie om gebed ‘n integrale deel van jou lewe te maak. En dit word gedoen deur na spesifieke Skrifgedeeltes te gaan wat oor gebed handel, en na verhale te gaan luister wat hieroor in die Bybel voorkom.

Wat is gebed? Wat is die doel van gebed? Watter soorte gebed kry ‘n mens? Hoe antwoord God verskillende gebede? Watter liggaamshouding vereis gebed? Hoe sluit jy gebed af? Dit is maar enkele van die vrae wat in basiese opleiding vir jou beantwoord word. Waar pas die Woord in gebed in? En die wil van God? Watter rol speel die Name van God in gebed? En waar pas die Heilige Gees in gebed in? Dit is maar enkele van die belangrike sake wat in die ontwerp van strategieë bespreek word.

Die boek sluit met ammunisie, waar jy leer van die ritmes van gebed, hoe om ‘n geestelike temperatuurtoets aan te lê, watter verse nuttig is vir strategiese gebed, wat die Name van God is en hoe om verder te groei en ‘n gebedsbediening te vestig.

Ja, jy het nou die gedagte gevorm: die boek is omvattend om jou toe te rus sodat gebed die belangrikste element van jou lewe word. ‘n Boek wat gemaklik geskryf is, puik vertaal en versorg is en wat jou lewe indringend gaan verander omdat dit jou toerusting gee wat van jou ‘n gebedskryger maak.

bottom of page