Die Oorlogskamer deur Chris Fabry [resensie]
Gebaseer op die fliek WAR ROOM deur Alex & Stephen Kendrick.
Onthou die flieks, Love Dare, Fireproof, Courageous en Facing the Giant? Dieselfde span het die fliek War Room gemaak waarop dié boek gebaseer is. En jy kry ook interessante foto’s uit die fliek asook inligting in die boek.
Dit is die verhaal van ‘n Amerikaanse egpaar, Tony en Elizabeth Jordan en hulle ideale lewe wat uiteindelik gerealiseer het. Hulle bly in hulle droomhuis. Albei het hulle ambisie in hulle loopbane verwesenlik. En hulle het ‘n pragtige en liefdevolle dogter. Tot hulle huwelik begin verbrokkel. Wat is vreemd aan hulle storie? Hoeveel mense het nie al dieselfde paadjie gestap nie?
Tony gaan van krag tot krag in sy beroepslewe en leef hom uit daarin, te midde van die versoekings wat met sukses gepaard gaan. En sy vrou reageer hierop deur toe te laat dat bitterheid en sinisme haar verswelg. Die uiteinde is duidelik – nog ‘n dogter wat verskeur tussen twee ouers in ‘n enkelgesin groot word.
Maar voor die ongelukkige huwelik in ‘n egskeiding ontaard, gebeur iets. Elizabeth ontmoet in die loop van haar werk ‘n weduwee, ‘n bejaarde vrou met baie ervaring wat in die mens, Elizabeth, belang stel. En wanneer Elizabeth haar hart oopmaak teenoor haar kliënt, kry sy meer as empatie en ondersteuning. Clara Williams daag haar uit om nie toe te laat dat haar huwelik ook in die drein afspoel nie. Sy leer haar om te veg vir haar huwelik, met alles in haar. En deur gebed as wapen in haar geveg te gebruik om haar man en dogter, en huwelik te red.
En dit is waaroor Die Oorlogskamer gaan, oor die effek wat gelowige gebed op ‘n huisgesin het, en wat uitkring en ‘n groot groep mense direk raak. Want die gelowige gebed van ‘n regverdige mens het groot krag.
Die verhaal word gekenmerk deur humor en ‘n lesersvriendelike styl wat die verhaal maklik en vinnig laat lees.
En terwyl jy lees, kom jy iets belangriks agter: jy begin anders oor gebed dink, en anders klink wanneer jy bid. Want dié boek bou jou geloof.
Voorwaar ‘n goeie belegging in jou eie huwelik, gesin en beroep!
Ons is dankbaar teenoor CUM wat internasionale boeke van dié gehalte in Afrikaans vertaal en aan Suid-Afrika beskikbaar stel.
Kommentare