Nou is die Tyd deur Lindie Strydom [resensie]
Gryp elke oomblik aan! Lindie Strydom is ’n bekende aanbieder van radio– en televisieprogramme en tree ook gereeld as motiveringspreker op. In dié boekie gaan dit om: Tyd is ’n geleentheid. Dit is ’n waardevolle kommoditeit. Ons gebruik van tyd verklap ons prioriteite en vorm ons identiteit. Tyd verklap ons prioriTYD en bepaal identiTYD. Om jou tyd te gee, is om jou lewe te gee. En dan die gebed en voorneme: “Leer ons ons dae sé gebruik dat ons wysheid kan bekom” (Psalm 90:12). Intimiteit vra eenkant stilteTYD. Die boek is pragtig gedruk. Daar kom talle aanhalings en prente voor en vrae vir nadenke daag jou uit om toe te pas wat Lindie jou leer. Sy skryf oor gejaagdheid en produktiwiteit, kwantiteit en kwaliteit van lewe, intimiteit wat jou lewe en fokus verander, die noodsaak om bewustheid te kweek, die dringendheid van verganklikheid waarmee ons saamleef, genadetyd en die belang van nou. Tyd is min. Tyd is belangrik. Dit wat ons doen met ons tyd het implikasies vir die ewigheid en koninkryk. Al wat verby tyd strek, is God en sy Woord. En indien jy verder as tyd wil gaan, moet jy tyd vir Hom en sy Woord maak. Verhoudings word gebou op klein, gereelde tydinspuitings. Hiermee kan jy gewoon nie haastig wees nie. As jy ʼn verhouding het wat belangrik is, soos met jou kinders, vra dit van jou om beskikbaar te wees en kwaliteittyd daaraan te spandeer. Kry jy die idee, van kort en pittige opmerkings wat jou dwing om na te dink? En dit word elke keer afgesluit met vrae wat jou uitdaag. Tussendeur kry jy verwysings na bronne wat jy kan raadpleeg en praktiese raad wat jy kan doen. Lindie stel jou in staat om te ontdek wat tyd soveel meer is as die ure in jou dag. Dat jy self bepaal hoe jy jou tyd inkleur, en hoe belangrik dit is dat jou prioriteitslys bepaal wat jy doen. Want dis belangrik dat jy nie een kosbare minuut vermors nie.