Omdat jy vry is deur Jan du Rand [resensie]
deur Marius Nel Ontsluit jou ware vryheid in Christus Prof Jan du Rand is een van Suid-Afrika se bekendste kenners van die Nuwe Testament, en spesifiek van Johannes se geskrifte. Ek het die afgelope week deelgeneem aan ’n kongres waar sy kollegas hom geëer het met sy sewentigste verjaardag en ’n gedenkalbum van akademiese artikels aan hom opgedra het. By dié geleentheid het hy sy nuutste boek wat by CUM verskyn het, Omdat jy vry is, bekend gestel. En dit is duidelik dat hy nou die fleur van sy skryfwerk bereik het! Prof Jan glo dat ware vryheid deel van die DNS van ’n Christen is, en dat ons daardie vryheid moet opneem en sorg dat niks of niemand dit van ons steel nie. Vryheid het te make met “losmaak” en “vasbind.” Jy moet jou losmaak van allerlei remmende gewigte wat die “oue” verteenwoordig. En jy moet jou Geesdriftig vasbind aan die “nuwe.” En tussen die twee groot, ingrypende fases van “losmaak” en “vasbind” moet daar ’n brug of oorgang wees. Dié oorgang bestaan wanneer die gelowige Jesus volg in sy gehoorsaamheid aan sy Vader en sy roeping. Jy moet jou doelbewus losmaak van sonde en sondegebondenheid, van jou ego-self wat heeltyd onkant neig, van die greep van die Bose en Satan, van jou vretende skuld en vrees vir straf, van jou eenogige wettisisme en onbuigsaamheid, van jou geskinder en om ander maklik te oordeel, van jou bekommernis wat jou sielsongelukkig maak, van jou sluimerende vrees vir die dood en terminale siekte, van jou oordrewe gehegtheid aan aardse skatte en status, van jou verwronge beheptheid met seks, van jou oordrewe klem op ideologie en politiek, van jou fanatisme en fundamentalisme oor godsdiens, tradisie en kerk, en van jou oorbeklemtoning van liggaamlikheid en die uiterlike. Ek het doelbewus aangedui wat die boek alles aandui waarvan jy jou moet losmaak, om ’n idee te gee van hoe omvattend die boek is. Prof Jan werk wyd in die Bybel om vir jou ’n prentjie te skep van wat bedoel word met die vryheid waartoe Christus jou roep. Waaraan jy jou moet vasbind, is selfs baie meer omvattend. Die boek is gerig aan ’n wye gehoor: gelowige mense wat hulle vryheid wil opneem en herwaardeer, gelowiges wat buite en los van die kerk staan en moet hoor wat vryheid wil verstaan, asook ongelowiges wat uitgenooi word om die vryheid in Christus te oorweeg. Hier het jy ’n formidabele werk van ’n gerekende kenner van die Bybel wat sy kennis en ervaring met jou deel in ’n omvattende boek wat jou van die eerste bladsy boei!