top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

In die Donker Put deur Johan Smith [resensie]

deur Marius Nel ’n Eerlike kyk na spanning, depressie en uitbranding, en hoe om dit te herken en te hanteer Die dood van die akteur Robin Williams van Mrs Doubtfire– en Patch Adams–faam as gevolg van depressie het talle mense opnuut onder die besef gebring van die omvang en aard van dié breinsiekte. Feit is: een uit elke ses Suid–Afrikaners ly aan depressie of angs of gebruik medikasie vir ’n emosionele versteuring. Tot ses miljoen inwoners van ons mooi land ly aan post–traumatiese stres. Minder as 16% van dié groep ontvang behandeling vir emosionele versteurings. Ongeveer 20% van tieners in Suid–Afrika het al selfdood oorweeg. En vir elke suksesvolle selfdoodpoging is daar 20 ander wat probeer het om hulle lewe te neem. Johan Smith skryf oor dié siekte aan die hand van werklike mense wat hulle verhale vertel — van hulle stryd met depressie, wat vir hulle gewerk het en wat nie gewerk het nie. En hy begin met sy eie verhaal, sy eie seun se stryd en die invloed daarvan op hulle gesin. Hy sluit dan ook af, nadat hy vyf ander se verhale vertel het, met sy persoonlike ervaring met uitbranding en die gevare wat dit vir hom ingehou het. Die boek is nie ’n wetenskaplike verhandeling oor depressie nie; tog bevat dit inligting wat die belangrikste biologiese en sielkundige aspekte van depressie korrek beskryf. Die boek is eerder ’n biografie van mense se daadwerklike stryd met die siekte, wat dit aan hulle gedoen het en wat hulle daarmee gedoen het. Jy kry hier sielsontboeseminge wat jou noop om jou skoene uit te trek; jy staan op die heilige grond van mense wat hulleself voor jou blootstel. In die proses kry jy raad uit die perd se bek, by wyse van spreke. Een vertel jou hoe belangrik mede–pelgrimsgenote geword het in die stryd om perspektief te herwin en vanuit geloof te lewe en te kyk na wat rondom jou gebeur. ’n Ander vertel van die pyn van veroordeling van medegelowiges wat redeneer dat ’n gelowige onmoontlik aan depressie kan ly omdat die Here beter vir hulle beplan. Nog een vertel hoe belangrik dit is dat jy let op jou dieet wanneer jy aan depressie ly omdat jou liggaam jou bondgenoot moet word om daarteen te veg. En nog een beklemtoon die belangrikheid dat vergifnis ’n integrale deel van ons lewe moet word om ons emosioneel te beskerm, en dit sluit die gawe van vergifnis in wat ons teenoor onsself ook beoefen. Indien jy hierdie gemoedsteurnis beter wil verstaan sodat jy die depressielyer kan liefhê, insluitend jouself indien jy die pasiënt is, gaan dié boek van Johan vir jou waardevol wees.

 

KONTAK ONS

Kontak ons gerus met enige vrae of voorstelle. Gebruik die besonderhede hiernaas of skryf sommer jou boodskap in die vorm hieronder.

Jou boodskap is gestuur!

e | info@ekerk.org

c | 083.670.9974

f  | 087.123.4567

Posbus 11315, Aston Manor 1630

52 Weltevreden Crescent, Kempton Park

Regnr:  2004/011580/08

  • w-facebook
  • Google Clean
  • w-twitter
  • w-vimeo
  • YouTube - White Circle

​© Kopiereg 2012 Ekerk Vereniging

bottom of page