top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Hartsgesprekke met... deur Marius du Plooy [resensie]

deur Marius Nel Hartsgesprekke met... Nelson Mandela, Jean de Villiers, Brand Pretorius en ander rigtinggewers wat jou sal inspireer om ’n verskil te maak Ons luister met rede graag na mense wat sukses in die lewe behaal het want iewers het hulle iets reg gedoen. Kan hulle nie dalk vir ons ’n resep gee wat ons in staat sal stel om op ons eie terrein ook meer suksesvol te wees nie, hetsy in ons verhoudings of beroep? En dit is wat Marius du Plooy doen. As onderwyser, joernalis, radio–omroeper, TV–aanbieder, akteur en tydskrifredakteur is hy geskik om gesprekke met mense te voer en dit in artikels te omskep. Wat jy egter hier het, is meer as gesprekke met mense. Jy kry die mooiste fotoboek wat pragtig versorg is met unieke foto’s van die persone met wie gesels word. En jy kry gesprekke met 28 beroemde en belangrike mense, waaronder Nelson Mandela, Rina Hugo, Brand Pretorius, Elvis Blue, Francois Pienaar, Riaan Cruywagen, Juanita du Plessis en Jesus. So verskaf Marius biografiese inligting oor Rina Hugo, waar sy as ernstige sanger met die beste operasangers ter wêreld skouers geskuur het, soos Pavarotti, David Phelps, Gé Korsten en ander. Dan praat sy oor haar lewe as populêre Afrikaanse sanger en haar besondere huwelik en gesin, wat nou al kleinkinders insluit. Sy praat ook oor haar geloof: om te glo is nie moeilik nie. Word stil en luister na wat Hy vir jou wil sê. Sy praat oor haar swak punte — haar ongeduld met mense wat iets nie vinnig genoeg na haar sin doen nie, en haar sterk punte, soos haar sin vir humor en dat sy maklik vir haarself lag. Sy is lief vir tuinmaak maar nie vir kosmaak nie, uitgesluit braaivleis. Sy praat oor haar liefde vir reis en waarna sy die graagste in musiek luister. Elke onderhoud is uniek en stel jou aan die mens voor. En by elke onderhoud is foto’s wat daardie mens vir jou ontsluit. Uit die lang lys van name aan wie jy bekend gestel word, kan jy sien dat hier iets vir elke smaak is. Maak nie saak of jy sportmal is of deur politiek of godsdiens gestimuleer word, belangstel in besigheid of wil nadink oor jou verhouding binne ’n gesin en huwelik nie. Hier is iets vir almal. ’n Pragboek met substansie is wat jy hier kry.

bottom of page