top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

7 Ritmes vir Kinders — Tom en Lollie Smith [resensie]

deur Marius Nel Lê die regte grondslag vir jou kind se geloof Tom Smith het bekendheid verwerf vir sy Ritmes van die Lewe-konsep en hy het al daaroor gepubliseer. Wat hy hier doen, is om die konsep op kinders en hulle leefwêreld van toepassing te maak. En sy vrou is sy medeskrywer. Sy is ’n opvoedkundige sielkundige met ’n passie om families te help om gesonde verhoudings te vestig terwyl Tom ’n pastoor is wat kerke help om missionale dissipelskap te bevorder. Die boek verduidelik hoe dit sal lyk wanneer kinders geleer het om volgelinge van Christus te word en in ritme met God se storie te leef. En volwassenes word spesifiek gelei om ’n positiewe rol in dié avontuur te speel. Die reis om ’n dissipel van Jesus te wees, sluit sekere ritmes in wat gebruik kan word om die reis te beskryf. Die sewe ritmes vereis vir sommige mense dat hulle teologie herskryf moet word, aldus Tom. Die boek begin met ’n verduideliking van struikelblokke wat ’n mens se pad na Jesus kan versper, en spesifiek sekere idees wat volwassenes mag koester en in die pad staan dat hulle eie kinders, of kinders onder hulle invloed by Jesus sal uitkom en in Hom sal groei. Dan vertel die skrywers waaruit die proses van verandering bestaan wat volg wanneer ’n kind in die Here groei. Hierna kom die sewe ritmes aan die bod en die doel is om duidelik te maak wat nodig is dat gesinne nader aan Jesus sal groei. Die sewe ritmes is: die spieëlritme wat verduidelik dat God liefdevol is en ons ontmoet waar ons is; die kragprop-ritme dat God altyd beskikbaar is en graag in ’n verhouding met ons wil lewe; die verpleegstershoed wat vertel dat God ons genees om in sy karakter in te groei; die trappe-partytjie van God wat ons vra om sy koninkryk uit te bou; die broodjie dat God ons roep om vriendskappe te bou; die skoene wat dui op ons sending om lief te hê en die sirkel van God wat kreatief is en ons roep om Hom te volg. Ek hoop jy is nou nuuskierig om meer uit te vind! Die wins van die boek is dat die skrywers wyd gelees het en jou laat deel in wat ander sê en dat hulle oral voorbeelde aanhaal om te demonstreer wat die praktiese uitkoms is van wat hulle voorstel. Daar is baie min geskryf oor kinders se groei tot geestelike volwassenheid en hoe volwassenes daartoe kan bydra. Daarom is dié boek uiters waardevol vir ouers, grootouers en volwassenes wat ’n belang by kinders se opvoeding het. ’n Belangrike boek wat jy nie mag mis nie!

bottom of page