top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Geheime vir ’n gelukkige huwelik deur Craig en Amy Groeschel [resensie]

deur Marius Nel 5 boustene vir ’n gesonde en geseënde huwelikspad Niemand hoef ons daaraan te herinner dat talle huwelike nie uitwerk nie. Meer as helfte van huwelike loop op die rotse en talle ander is ongelukkig. Wat moet ’n mens doen om ’n gelukkige huwelik te hê? Waarvan hang dit af? Die Groeschel–egpaar meen jy kán gelukkig getroud wees. Maar dan sal jy dit anders moet aanpak as die res van die wêreld wat op groot skaal ’n mislukking van die huwelik maak. Die Groeschels is ’n paartjie wat in Amerika ’n hele klomp gemeentes bestuur en invloed oor talle mense uitoefen. Craig het ook verskeie topverkoperboeke gepubliseer en bekend geword regoor die wêreld. Die egpaar maak hulle harte oop en deel hulle persoonlike ervarings om die vyf belangrikste beginsels met hulle lesers te deel wat hulle meen al die verskil in hulle lewe gemaak het. Jy kan ook jou huwelik sterker maak deur hierop te konsentreer. Eintlik is die beginsels so voor die hand liggend dat elkeen van ons dit kon uitdink. Die vraag is: het jy dit al in jou lewe begin toepas? Die beginsels is: Stel God eerste, bo alle ander mense of besittings. Baklei regverdig. Maak altyd weer tyd vir pret. Bly rein deur getrou te bly. En moet nooit opgee nie. En wat belangrik is: dit maak nie saak wat in die verlede gebeur het nie, en hoeveel foute van weerskante gemaak is nie, vandag kan ’n nuwe dag word. ’n Nuwe kans en ’n nuwe begin. Van vandag af vorentoe kan jy genesing vind wat jou in staat sal stel om intiem met iemand saam te leef. Van vandag af kan jy waarlik vergewe soos jy vergewe is. En kan jy nader aan jou huweliksmaat beweeg as ooit tevore. Dit is ’n boodskap van hoop, dat God jou toekoms kan verander indien jy Hom vra en Hom toelaat. En hierin lê die groot waarde van die Groeschels se raad: jy kán, in Christus. In Hom is jy meer as oorwinnaar. Hier het jy ’n gawe boek wat enige getroude mens se lewe gaan aanspreek en verryk. Ideaal as ’n geskenk vir mense wat trou of hulle huweliksherdenking vier. Of vir jouself, indien jy kans sien om jou huwelik se geluk eksponensieel te vergroot!

bottom of page