Jesus in my lewe deur Johan en Helena Smith [resensie]
deur Marius Nel 101 likes vir laerskolers wat nader aan Jesus wil groei Johan Smith is al meer as twintig jaar betrokke by jeugbediening. Tans is hy leier van al die gemeentebedieninge by die Moreletapark–gemeente in Pretoria. Hy en sy vrou is albei opgeleide kinderevangeliste, en Helena het vir ’n ruk lank voltyds vir die VCSV gewerk. Sy is ’n laerskoolonderwyser. En dié kobinasie is goeie rede om ernstig na dié boek te kyk as laerskolers ’n belangrike plek in jou lewe vul, hetsy as ouer of oupa en ouma. Op 12 is die lewe alles behalwe maklik. Wat saak maak, is dat jy onthou dat jy op laerskool die fondasie lê waarop die res van jou lewe gebou gaan word. Jy moet besluit of jy op die Rots gaan bou en vir Jesus in alles gaan volg, en of jy jou lewe op sand gaan bou. Jou besluit gaan bepaal hoe jy met ander saamlewe, wat jy met hartseer en teleurstelling gaan maak en wat jy met jou lewe gaan bereik. Die boek bestaan uit kort stukkies aan die hand van ’n klomp temas: Spreuke leer jou…blymoedigheid, dissipline, vriendskap, om versigtig met jou tong te wees, ensomeer. Dan: hoe voel God oor jou? Hy het jou lief, sy liefde jou nooit op nie, Hy het jou spesiaal gemaak. Dan ’n deel oor die kruis: hoekom hang Jesus aan die kruis, wat is die ewige lewe. Hierna: op reis met Jesus, oor jou GPS en gebed en dieet. ’n Volgende deel bespreek belangrike beloftes vir jou: dat Hy by ons is in moeilike tye, dat Hy ons vrymaak en beskerm en nuwe krag gee. Daar is ook bespreking van die elemente van ons lewe as nuwe mense: ons stryd tussen goed en kwaad, om nuwe klere aan te trek, nederigheid en diensbaarheid. Jy leer ook oor verhoudings, swaarkrytye en hoe om dit te hanteer, wanneer maats jou boelie en gemorskos. Jy kry antwoorde op strikvrae: waarom vier ons Kersfees, wat is die kerk, wie is die Heilige Gees, waarom hou ons nagmaal. Nie minder nie as 101 dagstukkies wat ’n kort Skrifgedeelte bevat, met ’n bespreking waar nie met woorde gemors word nie, ’n gebed en ’n uitdaging. Die taalregister is op laerskoolmaats gerig en die skrywers kry dit reg om in hulle idioom te praat en selfs ingewikkelde waarhede te verduidelik. Indien jy die fondament in die laerskolers in jou lewe stewig wil lê, is dié boek uiters geskik daarvoor.