top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

A Compassionate Call to Counterculture by David Platt [resensie]

deur Marius Nel Ons leef in oorlogsones. Die gevegslyne is duidelik getrek, tussen die tradisionele huwelik tussen man en vrou en dieselfde geslaghuwelik, en mense wat maar net saambly, tussen mense wat kies vir ongebore lewe en ander wat kies vir die keuse om te besluit oor daardie lewe, tussen persoonlike vryheid en die belange van die regering wat dikwels inbreuk op die individu maak. Nie so lank terug nie het almal saamgestem wat reg en verkeerd is. Skielik het alles relativisties geword — jy het jou waarheid en ek het nie die reg om my keuse van waarheid op jou af te dwing nie. Reg en verkeerd kan nie meer gemeet word aan standaarde wat vir alle mense en alle tye regoor die wêreld geld nie. Die situasie bepaal hoe jy moet optree, nie ’n morele standaard wat buite die situasie funksioneer nie. En ons keuses het groot geword, met homoseksualiteit, aborsie en godsdienstige vryheid wat die keuse van ateïsme as geldig insluit. Hoe moet ek as Christen op die nuwe gees reageer wat die wêreld bepaal? David Platte het reeds regoor die wêreld gereis en kerkleiers in talle lande en diverse situasies opgelei. Hy is as skrywer ’n analitikus van die postmoderne wêreld met sy nuwe tendense en het boeke geskryf wat die New York Times se lys van topverkopers gehaal het, soos Follow me, Radical en Radical Together. In hierdie boek wat kompak en baie verstaanbaar geskryf is, gee hy sy mening oor hoe ’n Christen aktief en vreesloos standpunt moet inneem oor sake soos armoede, sekshandel, die huwelik, aborsie, rassisme en godsdienstige vryheid. Hy daag jou uit om ’n passievolle stem vir Christus te wees wat nie vir ’n oomblik huiwer nie. Hy skryf vanuit sy ervarings met mense regoor die aardbol en hy toon aan hoe mense vreesloos en sonder om verskoning te vra Christus volg op so ’n manier dat dit ongelowiges aangryp en aantrek. Hy rus jou toe om in die kulturele mynveld van postmodernisme op te staan vir wat reg en waar is. Hy vertel jou watter prys dit gaan verg maar ook watter belonging dit gaan inhou. ’n Uitstekende boek vir die mens wat die wêreld waarin ons leef beter wil begryp, veral met die doel om eties en moreel te oorleef maar ook om jou getuienis uit te dra dat jy vir Jesus Christus gekies het.

bottom of page