top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

My Work my Worship deur Johan Carstens [resensie]

deur Marius Nel The First Commission Het jy al gewonder hoe ons enige nasie kan help om uit geestelike duisternis, armoede en menslike verval te ontsnap sodat die koninkryk van God daar gebeur? Vra dit van ons meer programme en aktiwiteite? Of moet ons geheel anders begin dink oor hoe God sy werk in ons wêreld wil voltooi, om onbereikte wêrelddele vir die koninkryk te wen? Wat gaan dit vra om saam met hom dié werk te doen, en selfs belangriker, wie sal dit moet doen? Johan Carstens wy sy lewe daaraan om dié vrae te beantwoord. Hy het twee doktorsgrade oor missiologie voltooi en werk al vir vier dekades op die sendingveld, die afgelope jare as bestuurder en argitek van sendinginisiatiewe. In dié kort maar kragtige boekie wat hy beskikbaar stel, vertel hy van die pad wat die Heilige Gees met hom gestap het om sy denke te verruim. Hy het raakgesien watter belangrike rol die werksplek in die lewe van mense vervul. God roep ons om by ’n alternatiewe model te kom waar ons sendeling van Christus kan wees, of Christene op ’n sending. En dit vra van ons dat ons nuut dink oor ons werk. Werk is die rede hoekom God die mens geskep het. As dit nie was vir die werk wat God gedoen het en wat Hy wil hê ons moet doen nie, sou Hy ons nie geskep het nie. Daar is niks sekulêr in die wêreld nie. Jy kan nie ’n sekulêre pos beklee teenoor iemand anders wat ’n “geestelike” werk doen nie; alle werk is geheilig. En ons wêreld is essensieel nie verlore nie, maar sleg. Want God het na alles dit goed gemaak. Dit het sekulêr geword, sonder God, toe dit sleg geword het. Maar dit is hoekom Christus gekom het, om te soek en te red wat verlore is. En dit is hoekom ek en jy werk: om saam met God mense wat verlore is, op te soek en te red. Op dié manier word jou werk die wyse waarop jy God aanbid. Johan sluit sy belangrike werk af met 10 beginsels hoe jou leefstyl jou werksplek in ’n heilige plek van aanbidding kan verander. Hy sluit by die praktyk van ons lewe aan: my missie is om my lewe, werk en aanbidding elke dag aan die Here te wy. Ek soek doelgerig na God se wil vir my werksplek. En wat ek by die werk doen, doen ek vir God. My werk is ’n refleksie van die karakter van die God wat ek aanbid. Ek is ’n geestelike sambreel vir ander wat vir my werk. En ek is ’n welvaartskepper vir die een vir wie ek werk. Ek staan in die gaping tussen God en my mede-werknemers. Ek omhul my werkgewer in gebed. Ek is ’n herder waar ek werk. Ek besef dat ek vervolging kan verduur omdat ek getrou bly aan die Here, maar tog is ek gewillig om aan Hom lojaal te bly. Indien jy meer wil weet van Johan en sy werk, kan jy gerus vir hom ’n epos stuur: marketplace@tiscali.co.za.

bottom of page