Waarheen is jy op pad? [resensie]
deur Marius Nel Resensie van Waarheen is jy op pad? deur Francis Chan, Eugene Peterson, Bill Hybels en ander ’n Persoonlike gids op jou lewensreis Wat sal jy gee om van die wêreld se belangrikste geestelike leiers as jou mentor te kan gebruik? Om te vertel waar jy is, wat jy droom en waar jy wil uitkom, en dan te luister na hulle advies wat vloei uit hulle deurwinterde ervaring? Dink daaraan dat jy na mense soos Bill Hybels, Gordon MacDonald, Eugene Peterson van The Message–faam, Francis Chan, Mark Buchanan en ander kan ry, of gou ’n oproep kan maak en advies vra! Dit is presies wat in dié boek gebeur. Dertien van die wêreld se topskrywers vanuit Christelike oogpunt wat letterlik miljoene mense met hulle boodskap bereik en beïnvloed het, gee vir jou advies oor jou pad vorentoe. Gordon MacDonald gesels met jou oor hoe belangrik dit is om jouself en waar jy is, te assesseer. Mark Buchanan vertel jou van die gevaar dat die kultuur waarin jy lewe se norme en waardes jou kan besmet en hoe jy dit kan vermy. Francis Chan leer jou hoe hy sy enjin elke keer weer instel. Eugene Peterson leer jou hoe om die Bybel op ’n geestelike manier te lees. Mark Buchanan rus jou toe om eenvoud na te streef. En Bill Hybels vertel jou hoe om jou sesde sintuig te verskerp. Ek het groot waarde in dié boekie gevind. Die stukke is kort en maklik geskryf — meestal in die omgewing van iets meer as tien bladsye. Maar die diepsinnigheid en skerpte van die advies, gebou op mense se werklike ervaring, gaan baie ver om jou te motiveer om te groei. Stel jy belang om te weet hoe jy jou roeping in die lewe kan ontdek en onder woorde kan bring? Wat die doel van lyding in jou lewe is? Hoe jy konflik sinvol en konstruktief kan hanteer? Hoe jy kan ontsnap van die roetine van besig–wees en aan die hardloop bly sodat jy in die rus kan ingaan waar jy die stem van die Here kan hoor? Hoe om padversperrings te hanteer? Dan gaan jy ’n goeie belegging maak deur dié boek aan te skaf.