top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Nét 24 uur! deur Kevin DeYoung [resensie]

deur Marius Nel Plaas Jesus eerste te midde van ’n besige lewe Die skrywer van hierdie boekie oor besig-wees is ’n bekroonde outeur en spreker by konferensies buiten dat hy ’n senior leraar van ’n Amerikaanse gemeente is. Wat hom egter kwalifiseer om oor besig-wees te praat, is dat hy ook die pa van ses kinders is wat hom en sy vrou baie besig hou! Die boek bevat praktiese en kort wenke (vir besige mense!) vir mense wat belang stel om ’n einde te maak aan ’n oorbesige lewe. Die gevare van oorbesig-wees is groot: jy word beleër deur die talle manifestasies van hoogmoed oor jou belangrikheid, jy probeer doen wat God nie van jou verwag nie, jy kan ander nie dien sonder om prioriteite te stel nie, jy maak jou kinders resend, jy laat toe dat die skerm jou siel verswelg, jy is besig om uit te brand, en jy kry swaar omdat jy verwag om nie swaar te kry nie. God gee ons almal 24 uur in elke dag. Dit is die een hulpbron wat met absolute gelykheid versprei is. Die meeste van ons bring meestal daardie ure deur met dit wat ons dink belangrik is. Jy wens dalk jy het meer geoefen, gelees, gedelegeer of geslaap. Die antwoord is dus nie blote wilskrag wat besluit dat ek meer tye met Jesus moet deurbring nie. Dit gaan nie op die lange duur werk nie. Jy moet glo dat dit jou goeie deel is om van God te hoor. Jy moet glo dat die belangrikste geleentheid is wat jy elke dag kry is om aan Jesus se voete te sit. Dit is die begin van ’n lewe waar jy besig-wees kan vermy sodat jy by die belangrike dinge kan uitkom, waar jy soos Maria aan Jesus se voete sit terwyl die Martas hulle bene afhardloop. Jy gaan nie dit regkry om jou prioriteite gerangskik te kry indien jy nie regtig glo dat dit die beste een is nie. Hier het jy ’n boekie vol praktiese raad oor hoe om jou lewe so in te rig dat jy iets gaan nalaat wat die moeite werd is. Vir besige mense, nuttige raad wat hulle lewens gaan verander wanneer hulle tyd maak (!) om dit toe te pas.

bottom of page