top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Jesus se Woorde vir Mans deur Riekert Botha [resensie]

deur Marius Nel 366 dae saam met Jesus Wanneer ’n mens die Bybel gereeld lees en al herhaaldelik deurgelees het, raak jy soms so gewoond aan die woorde en idees wat daarin vervat is, dat jy soms nie meer die waarhede raaklees nie. Ek het gevind dat ’n nuwe vertaling van die Bybel dan ’n mens help om weer met nuwe oë na die Bybelse teks te kyk. En die oulike dagboek van Riekert Botha gaan ook help want hy laat jou die belangrike woorde van Jesus met nuwe oë lees. Elke dagstukkie begin met woorde wat Jesus gesê het. “Moenie soos die heidene ’n stortvloed woorde gebruik wanneer julle bid nie.” Dan kom ’n kort oordenking hieroor: Gebed is nie ’n toorformule nie. Dat baie mense so dink, hoor jy uit die manier waarop hulle bid. Jy moet die regte woorde gebruik, of die regte woorde net genoeg herhaal, en hoe langer jou gebed is, hoe gunstiger gaan die antwoord wees! Of jou woorde moet in die korrekte volgorde wees, of jy moet die Ons Vader–gebed in die regte volgorde herhaal. Jesus se raad gaan egter direk hierteen in: Praat met julle Váder — moenie probeer toor nie. Praat met God uit verhouding uit — moenie iets aan Hom probeer verkoop nie. Praat uit jou hart uit sonder om aan te sit. Niemand hou van aansit nie — God ook nie. Die dagstukkie sluit dan met iets om oor na te dink: Luister volgende keer na jou eie gebede. Praat jy normaal? Is jy opreg? Praat jy uit verhouding uit? Praat jy met jou Vader of met ’n onpersoonlike God êrens ver? Praat jy soos ’n kind of ’n vreemdeling? Riekert Botha het bekend geword deur sy Pleisters vir die Siel–reeks op RSG en boeke wat daaruit gevloei het. Hy tree wyd op en bereik talle mense deur sosiale media. Sy dagstukkieboek gaan ’n nuttige geskenk wees om vir ’n besige man te gee wat graag na Jesus self wil luister. Die grootte van die boek en die formaat maak dit veral gerieflik om saam te neem waneer ’n mens reis. Die boekie is ook in Engels beskikbaar.

bottom of page