top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

In Ritme met God deur Heinz Winckler [resensie]

deur Marius Nel Ontdek jou identiteit in Christus en vervul jou lewensdoel Heinz Winckler is Suid–Afrika se eerste Idols–wenner in 2002 wat al ses van sy eie albums vrygestel het en spog met verskeie toekennings. Hy het ook die rol van Jesus in die musiekblyspel Jesus vertolk en hy reis die land vol met sy vertonings. En nou het hy sy hand op papier gewaag. Hy skryf oor jou identiteit wat ’n bepalende invloed op jou lewe het. Daarom is dit so belangrik dat jy begryp wat jou identiteit in God is. Soveel Christene beleef intense emosionele pyn wat gepaard gaan met ’n swak selfbeeld, en hulle lewe word gekenmerk deur die wyse waarop hulle met hulleself praat. Wat saak maak, is dat elke gelowige leer om jouself te sien soos die Almagtige na jou kyk. Jy moet in ritme met jou Skepper kom. Heinz se argument loop so: jy moet weet wie die Skepper is wat jou gemaak het. Maar jy moet ook verstaan wat skeef geloop het sodat jy ver van jou Skepper gaan draai het. Genadiglik het jou Skepper ’n Vaderhart wat na jou uitreik en van jou God se kind maak, sy eiendom en die appel van sy oog. Wanneer jy sien hoe groot God se liefde vir jou is, sal jy verstaan hoe kosbaar jy vir God is. Die volgende vraag is: is jy ’n slaaf, ’n weeskind of ’n eie kind? Heinz verwys na die gelykenis van die verlore seun, en vra watter seun jy is: die een wat terugkom van die varke af en met berou sy sonde bely of die seun wat selfgeregverdig by die huis sit en in sy hart ver van sy vader is. Wie is Jesus en wie sê Hy is ek? Wanneer Jesus my beste vriend word, bepaal dit my identiteit. Dan vind ek die sin van my lewe daarin om sy wil te doen. Wat sê Paulus van gelowiges: wie is hulle? Dit is ’n belangrike vraag omdat Paulus se briewe ’n belangrike deel van die Nuwe Testament vorm. Die laaste vraag is: hoekom is ek gemaak? Waarvoor is ek geroep? Ek is nie wat ek doen nie maar my lewe het ’n unieke doel. Waar pas ek in? Hoe kan ek uitvind? Hier vertel Heinz sy eie verhaal, en dit maak die boek interessant en onderhoudend. Jy leer ken die mens Heinz en verstaan dan wat hy bedoel as hy oor identiteit praat. Die laaste deel handel oor die huwelik en hoe jy jou identiteit daar kan uitleef. ’n Gawe boek wat lekker lees en jou insae in die lewe van ’n bekende gee, en motiveer om jou identiteit in jou geloof te vind!

bottom of page