top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Ek Glo [resensie]

deur Marius Nel Uittreksels uit die Nuwe Lewende Vertaling Leef die storie van die Bybel om meer soos Jesus te word Die Bybel kan ’n intimiderende boek wees wanneer jy tussen die geslagsregisters en wetgewing en verslae van oorloë verval, en hoe die land tussen die stamme van Israel verval het en watter koning in watter jaar aan bewind gekom het. Hier het jy ’n uitstekende boek om vir iemand te gee wat belang stel om al die moeilike dele van die Bybel te vermy maar met die essensie van die Bybel kennis te maak. En terselfdertyd stel die boek jou voor aan ’n uiteensetting van wat die Bybel leer oor die tien belangrikste leerstellings. En die belangrikste positiewe punt is dat dit nie is wat mense daaroor leer nie omdat die Bybel self aan die woord gestel word. Dit gaan om drie belangrike vrae: wat glo ek as ’n kind van die Here? Wat doen ek noudat ek sy kind geword het? En wie word ek nou? Hierdie vrae word elke keer aan die hand van tien sleutelwaardes bespreek. So kom die eerste vraag, wat glo ek?, aan die bod terwyl onderwerpe na Bybelse tekste soos die volgende verwys: ek glo in God, in verlossing, die Bybel, die kerk, die mensdom, barmhartigheid en die ewigheid. Wanneer dit handel oor wat ek doen, kry jy tekste wat verwys na: ek aanbid, doen Bybelstudie, leef doelgerig, bou ’n Bybelse gemeenskap, gebruik my hulpbronne en deel my geloof. En so oor wie ek word: ek is liefdevol, altyd bly, leef met selfbeheersing, is nederig, ensovoorts. Die skrywer se bydrae is om kort inleidende notas tot die onderskeie temas te bied voor jy by die Bybelteks self uitkom. Dié boek kan jy met ’n goeie hart vir ’n jong Christen gee — jy gee immers die Bybel vir so iemand se verligting. Die boek sluit dan af met besprekingsvrae wat op elke hoofstuk gebaseer is, sodat die boek ook nuttig vir groepstudie aangewend kan word. Dit is nie ’n afskeepwerk nie — jy kry ’n redelike groot deel van die Bybelse teks hierin. En dit is ’n pragpublikasie wat jy graag elke dag sal wil aanwend. As jy belang stel om die storie van die Bybel uit te leef sodat jy meer en meer soos Christus word, is dié Bybel ’n moet vir jou. ’n Unieke konsep van hoe die Bybel op direkte wyse gebruik kan word!

bottom of page