top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

’n Gesin na God se hart deur Ken Blanchard [resensie]

12 radikale riglyne om jou gesin te lei soos Jesus

Focus on the Family se teenwoordigheid in Suid–Afrika het al baie mense se lewens verryk, huwelike gebaat en gesinstrukture vernuwe. En dié boek stel verseker nie teleur nie. Dit lyk na ’n gedugte span skrywers wat kragte saamgespan het en kundigheid uit verskillende terreine bymekaar gevoeg het.

Jy kry hier twaalf praktiese riglyne wat in vier dele verdeel is: Die hart fokus op temas soos nederigheid en onselfsugtigheid, die kop wys na visie en koers, die hande wys na hoe jy kinders kam help om suksesvol te wees en hoe om hulle te inspireer om gehoorsaam aan billike vereistes te wees, en die gewoontes wys gesinne hoe belangrik dit is om tyd saam met die Here te spandeer, wat dan foute verander in genade en vergifnis.

Ons almal verstaan dat ’n ouer se grootste invloed oor sy of haar kind beperk is. Jou kind leer by jou en luister na jou en modelleer hulle lewe aan jou slegs vir die eerste klompie jare. Daarna word onderwysers en maats belangrike stemme in hulle lewe.

So dikwels lei ouers se optrede tot opstandigheid en woede by kinders, al kan hulle dit nie noodwendig verwoord nie. Feit is: deur sekere aanpassings in jou gedrag en gesindheid te maak, kan jy jou kinders inspireer om gehoorsaam te wees. Die hoofstuk wat hieroor handel, bevat nuttige wenke na my mening.

Die belangrikste element in die boek, so dink ek, is dat die skrywers beklemtoon dat jy as ouer vir ’n gehoor van Een speel. Eers wanneer jou eie lewe op die Here afgestem is omdat jy vanuit ’n persoonlike, intieme en alles–oorheersende liefdevolle verhouding met Hom lewe, sal die ander aspekte van jou lewe in lyn kom. It is only by doing Your will that I become free. Om soos Jesus te lei, moet jy ’n ewigheidsperspektief hê.

Die probleem is dat ’n mens dikwels jonk en onervare is wanneer jy kinders het, en dat jou ouers as jou rolmodelle doen, wat nie in alle gevalle positief is nie. Gelukkig kan ’n mens uit ander se foute leer en, die belangrikste, kan jy as ’n kind van God jou afhanklikheid as ouer van Hom bely en sy Gees vra om jou te lei.

Ek meen die beginsels wat in dié boek hanteer word, is belangrik en in die ware sin van die woord radikaal — dit gaan tot op die wortel (radiks) van die saak en bespreek dit vanuit ’n perspektief wat werklike waarde het.

Oupa en ouma, gee dié boek vir jou kinders. Of, ouer, koop dit vir jouself en spandeer tyd om te beoefen wat dit voorstel. Dit gaan jou gesin se lewe verander om die hart van God te illustreer!

bottom of page