Meer van hulle, asseblief!
deur Stephan Joubert
Die jong fisikus van Polytechnikum in Zürich moes eintlik verpletter gewees het toe sy skripsie afgekeur was. Meeste studente sal opgee gee as hul Professors dink hulle navorsing is nie goed genoeg nie. Maar hierdie man het geweier. Ons praat nou van die beroemde Albert Einstein. Mislukking was nie ‘n opsie nie. “Nooit! Lank lewe onbeskaamdheid” het hy uitgeroep. Hierna het die 26 jarige Einstein in die Switserse stad van Bern ure spandeer om drie van die belangrikste artikels wat moderne wetenskap sou beïnvloed te skryf.
Wat was die geheim van Einstein se sukses? Hy het nie ‘n ego gehad wat erkenning van sy mede-wetenskaplikes gesoek het nie. Die Harvard professor Howard Gardner het later gesê dat Einstein die grootste wetenskaplike van ons tyd is as gevolg van sy openheid, eerlikheid en naïwiteit. Hy het altyd die lewe aangepak deur die oë van ‘n kind.
Ons het meer geestelike Einsteins nodig wat weier om saam met die godsdienstige stroom te vloei. Te veel gelowiges lewe louwarm lewens. Daar is te veel geestelike leiers wat gemaklike posisies het in voorspelbare kerk-omgewings. Daar is te veel teologie, kerk programme en preke wat ervarings fasiliteer wat mense laat goed voel in irrelevante ivoortorings. Dis geen wonder dat Christenskap so min impak het in die “regte wêreld”.
Hedendaagse geestelike Einsteins is individue wat nie tevrede is met die gewone ou antwoorde in die gewone ou veilige omgewings nie. Hulle plaas hul eie reputasies en loopbane op die spel om God se nuwe roetes van hoop te vind, buite die veilige hawens van godsdienstige omgewings. Hulle maak ‘n verskil waar dit saak maak - tussen armes, vertraptes, siekes en die eensames. Hulle gaan met vrymoedigheid na plekke waar geen ander al gegaan het nie. Hulle gee om, gee liefde, bid en deel soos Robert J. Thomas dit gedoen het.
Sover kennis strek was Thomas die eerste sendeling in Korea. Hy het nie ‘n reuse sendingprogram gedryf nie. Trouens, hy was dood nog voordat hy eintlik hiermee begin het. In 1866 was hy aan boord ‘n Amerikaanse skip genaamd General Sherman, wat op die Taedong Rivier in Noord-Korea gevaar het, waar hy wou gaan werk vir die Here. Die skip het op ‘n sandbank beland en hulle is aangeval deur Koreaanse soldate. Net voordat Robert Thomas ook doodgemaak is, het hy ‘n Bybel na sy aanvallers uitgehou en uitgeroep: “Jesus, Jesus!”. Sowat 25 jaar later het iemand ‘n gastehuis in daardie omgewing besoek met vreemde papier teen die mure. Die eienaar het verduidelik dat hy van die Koreaanse skrif gehou het wat in ‘n dik boek was wat hy iewers gekry het. Toe plak hy dit op sy muur. Dit was toe al die tyd bladsye uit Robert Thomas se Bybel wat hy vir sy moordenaars gegee het en wat as teks vir vele gaste gedien het. Wie weet hoeveel mense het God se genade teen daardie einste muur raakgelees en ontdek! Sommige navorsers reken dat 40% van Suid-Korea se inwoners vandag Christene is en dat hierdie Bybel van Thomas ‘n groot deur was vir die evangelie. Thomas wys ons die roete aan! Kom ons volg hom.