top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Skadu’s van godsdienstige irrelevansie

deur Stephan Joubert

Jare gelede lees ek in ’n boek oor hoe vele Amerikaanse gelowiges in die hande van die media gespeel het en ’n middelmatige fliek tot ’n treffer verhef het. Dit was die film: The last temptation of Christ. Te midde van vele komplotte agter die skerms (sien die boek van Pamela Grace in 2012: “Hollywood under siege. Martin Scorsese, the religious right and the cultural wars”) was die hardnekkige storie dat die film Jesus in ‘n slegte lig stel. Dit is lewend gehou deur konserwatiewe Christelike drukgroepe. Skielik was almal die ene ore toe die fliek vrygestel is. Vele Christene het betoog en mense opgeroep om die fliek te boikot. Die eindresultaat was dat baie meer mense hierdie film gaan kyk het om te sien waaroor gaan die bohaai. En om verbode vrugte te proe.

Hoe meer die kerk teen dinge is wat die publieke oog vang, hoe groter aandag kry dit. Dit het die media lankal agtergekom; kerkmense nog nie. Daarom dat rockgroepe en sangers wat pervers is of na die duiwel in hulle musiek verwys soveel gratis blootstelling kry onder miljoene mense wat andersins nie ’n oog sou knip hieroor nie. Net dalk gebeur dit weer in hierdie dae. Sekere flieks en politici se manewales trek orals aandag. Op facebook; in preke, op die radio vaar Christene verwoed uit hierteen.

Moet ons stilbly as dinge verkeerd loop? Nee, maar om bloot net teen die top tien sondes van die dag te wees en daarteen te praat en preek help nie. Deur al die eeue het die kerk dit gedoen, en niks gegroei waar dit gebeur het nie. Dit wys navorsing oor en oor aan ons. Trouens, soos wat ons hierbo gesien het, sodanige protes aksies van die kant van godsdienstiges pas juis die media.

Die roete? Wel, net dalk moet ons ophou om bloot net “op te staan” vir die Here deur teen alles en almal te wees en te doen wat 1 Petrus 2:15 sê. En dit is om goed te doen in God se Naam en so ’n einde te bring aan die dwaashede wat mense doen en kwytraak. So sê die Here. Nee, nie protesoptogte en boikot aksies nie, maar goeddoen en regdoen. Bekers koue water en omgee - dit maak die kerk magneties.

Ook moet ons mense se aandag verskuif. Om heeltyd net op sondes of probleme te fokus, soos een of ander ongewensde fliek of optrede, hou daardie einste dinge in die voorgrond. Ons word geroep om ons gedagtes op Christus te hou, soos wat Kolossense 3:2 ons leer. Ons word geroep om mense se aandag te verskuif; nie om dit nogmaals op die probleme van die dag te hou en net daarteen te wees as ons enigste alternatief nie.

bottom of page