Uitbranding: die onaangespreekte kerk-siekte
- Feb 2, 2015
- 2 min read
deur Stephan Joubert
DIE STORIE:
Die gemeente was op soek na 'n nuwe leraar. Dit moes ‘n flukse herder wees wat te alle tye vir die gemeente beskikbaar is. Veg-fiks het egter spoedig verander in vlug-fiks, want die nuwe leraar kon nie die mas opkom nie. Daar was net te veel vergaderings, preke, Bybelstudies en moeilike gemeentetelede. Die kerkraad was ook nie tevrede met sy “werksprestasies” nie. Toe word daar maar weer geadverteer.
DIE FEITE (aangehaal uit: JY KAN ’N VERSKIL MAAK: Stephan Joubert, CUM BOEKE, 2014):
Volgens ‘n artikel deur Paul Vitello in 2010 in The New York Times getiteld: “Taking a Break From the Lord’s Work” is uitbranding onder leraars tans aan die orde van die dag. Hy begin sy artikel met die woorde: "Members of the clergy now suffer from obesity, hypertension and depression at rates higher than most Americans. In the last decade, their use of antidepressants has risen, while their life expectancy has fallen. Many would change jobs if they could."
Die Amerikaanse webblad PastorBurnout.com haal statistiek aan wat bevind 13% van aktiewe leraars is geskei; 33% leraars brand uit binne die eerste vyf jaar in die bediening en meen hulle bediening is ongesond vir hulle familieverhoudings; 40% van alle leraars, en 47% van hulle eggenotes ly aan uitbranding vanweë onrealistiese verwagtinge van hulle werk en oorlading; 50% leraars voel hulle is onbekwaam vir die eise van hulle werk; 56% leraars se vrouens sê hulle het geen goeie vriende nie; 57% leraars sou dadelik ‘n ander beroep beoefen indien hulle een kry; 75% beleef ernstige stres wat ly tot woede, angs, depressie en vervreemding.
DIE VRAAG:
Hoe is al hierdie dinge moontlik? Wel, dit gebeur omdat mense op soek is na “herders wat altyd vir en in die gemeente beskikbaar is en dien” soos wat ek onlangs in ‘n kerklike advertensie vir ‘n leraarspos raakgelees het. Mense soek leraars wat min of meer alles kan doen omdat hulle hiervoor betaal word. Hulle moet kan bid, preek, praat, troos, raas, bemoedig, vrede maak, probleme uitsorteer, sondaars bekeer, gelowiges opbou, huisbesoek doen, huwelike red, jongmense verstaan, oumense versorg, dooies begrawe, troues hou, vergaderings lei, kommissies bestuur… o ja, en dan moet hulle ook nog ure aan gebed en studie van die Woord wy.
Helaas maak onrealistiese verwagtings dat baie leraars in “geestelike skakelbeamptes” verander wat almal ter wille moet wees. Tog ken die Nuwe Testament nie “professionele geestelikes” wat alles vir almal moet wees nie. Die kerk is die lewende liggaam van Christus. Gelowiges vervul hier sekere funksies volgens die gawes wat die Here vir hulle elkeen gegee het. Geestelike leiers se rol is slegs om gelowiges toe te rus om hul plekke vol te staan vir die Here; nie om alles self te doen nie.
Kom ons staan elkeen ons plekkie in God se koninkryk en kerk vol. Dan verdwyn die rook van uitbranding soos mis voor die son!

Comments