top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Op Soek na God se Hart deur Lindie Strydom [resensie]

deur Marius Nel Saam met Rooikappie, karwagte, sepies en survivors Lindie Strydom is ’n bekende persoonlikheid op radio en TV, veral as aanbieder van Geloof, Hoop en Liefde, wat al vir meer as ’n dekade motiveringspraatjies lewer. En sy is ook ’n bekwame skrywer, kom ’n mens gou agter. In hierdie boek vertel Lindie van haar persoonlike reis op soek na God se hart. Sy het gemeen Christenskap beteken dat ’n mens jou hart vir die Here gee. Maar mettertyd het sy geleer dat dit maar net die begin is. Daarna volg ’n lewe waarin jy God se hart ontdek, gevolg deur ’n ewigheid wat jy in sy teenwoordigheid deurbring. Jy ontdek wat sy hart vir jou eie lewe is, vir jou huwelik en gesin, vir jou gemeenskap en land. Jy ontdek sy hart wanneer jy in ’n verhouding met Hom lewe en oomblik vir oomblik poog om in die voetstappe van Jesus te volg. En jy ontdek sy hart wanneer jy jou in sy Woord verdiep en sy Gees jou leer en lei om dit wat jy hoor, te gaan doen. Jy ontdek sy hart wanneer jy na die harte en stories van ander mense luister; Hy openbaar iets van Homself in elke mens. En jy ontdek in besonder sy hart daar waar jy Hom sal kry, tussen armes, stukkendes en gebrokenes, mense wat nie meer hoop op ’n toekoms het nie. Jy hoor ook sy hart in jou kinders en kosbare vriende se stemme, wanneer jy doen wat van jou verwag word op so ’n wyse dat dit Hom eer. Lindie skryf oor temas soos haar verhouding met die Here, eienaarskap, roeping, dissipelskap, betrokkenheid by jou gemeenskap, gee en omgee. Dit is die verhale wat sy vertel het wanneer sy met mense kon gesels oor haar lewe, waar sy genooi is om te getuig. CUM het moeite gedoen om ’n mooi boek, ’n kunswerk hiervan te maak. En daarom is dit ’n ideale geskenk om vir ’n vriendin, lewensmaat of ouer te gee. Sy begin met die verhaal van Rooikappie en wat sy daaruit oor God geleer het. Sy moes nader kom om beter te kan sien en beter te kan hoor. Wie anders nooi ons om nader te kom om beter te kan sien en hoor, om te kom ontdek en sodat ons aan die beweeg kan kom? Nader kom is God se idee, sy inisiatief. ’n Mooi geskenkboek, maar meer, ’n boek met substansie wat jou laat dink en leef!

bottom of page