Leef vreugde!
deur Johan Smith In ’n klein dorpie het ’n jong seun saam met sy ma gewoon. Hy was verstandelik vertraag. Hy het egter spreekwoordelike groen vingers gehad en het baie mense in hulle tuine gehelp. Op die manier het hy geld verdien om vir hom en sy ma te sorg. Die tuine waarby hy betrokke was het uitgestaan en was pragtig. Hy was hardwerkend en betroubaar. Hy het ook altyd ’n kannetjie olie met hom saamgedra en elke deur wat ’n geluid gemaak het, het hy olie gegee. Die kinders van die dorp was al te gretig om met die vertraagde seun te spot, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie. Nee, hy was vriendelik en in plaas van kwaad te word, het hy heerlik daaroor gelag. Elke Sondag het hy en sy ma op hulle kenmerkende plekke in die kerk gesit. Die jong seun is skielik oorlede as gevolg van ’n harttoestand. Sy begrafnis is bygwoon deur die hele dorp. Mense het buite gestaan en op die stoep van die kerk gesit. Sy vreugde, betroubaarheid, vriendelikheid en opregtheid was vir almal ’n voorbeeld. Daar is soveel bedrog in die wêreld. Mense is verskriklik oneerlik. Ja, selfs van die voorste politieke leiers in die wêreld en ons eie land is gereeld in die nuus as gevolg van oneerlikheid. Betroubaarheid is net so ’n skaars eienskap en mense stel ander gereeld teleur. Norsheid en onvriendelikheid is ook aan die orde van die dag. Ek en jy kan uit die voorbeeld van die verstandelik vertraagde seun leer. Sy lewe het mense na hom aangetrek en ten spyte van sy agterstand, was hy gewild omdat hy ’n positiewe lewenstyl gelei het. Moeder Teresa van Kalkutta het gesê: Wees ’n lewende vergestalting van God se liefde — met deernis in jou glimlag, in jou oë, in jou woorde, in die aanraking van jou hande.