Ontdek die Boodskap van die Nuwe Testament deur Jan van der Watt en Francois Tolmie [resensie]
- ekerkweb
- Dec 12, 2014
- 2 min read
deur Marius Nel
Die skrywers van dié boek is Suid-Afrika se voorste Nuwe-Testamentiese kundiges. Prof Jan is verbonde aan die universiteit in Nijmegen in Nederland en prof Francois aan die Universiteit van die Vrystaat. Albei publiseer internasionaal en vele populêre werke verskyn ook uit hulle pen.
Wat dié boek oor die Nuwe Testament uniek maak, is dat dit oor onderwerpe handel wat uiters nuttig is om die Bybel te verstaan maar wat selde saam gegroepeer word. Die eerste deel handel oor die rol wat die Ou Testament in die Nuwe Testament speel maar dui ook aan hoe die twee bymekaar aansluit. Die God van die koninkryk bly dieselfde deur alle eeue en daarom is sy openbaring ook samehangend oor tyd.
Die tweede deel gaan oor die God van die Nuwe Testament soos Hy belewe is deur Jesus, Paulus, die evangeliste, Johannes, die algemene briewe en Openbaring. Die derde deel vra: wat beteken dit om in God se wêreld te leef? Wat en wie is die mens, en waar pas sonde in? Dit gee ook inligting oor die bose.
Jesus Christus is die middelpunt van ons geloof en dit kom vervolgens aan die beurt. Wie is Hy? Hoe kyk Paulus na Hom, en die evangeliste, die algemene briewe en Openbaring. Die leser kom agter dat die skrywers enorme kennis tot hulle beskikking oor tekste het in die manier waarop die inligting aangebied word.
Die volgende deel vra: wat beteken dit om gered te wees? Om ’n tweede kans te kry? Weer eens kry jy die behandeling van die onderwerp aan die hand van die onderskeie dele van die Nuwe Testament: Matteus, Markus en Lukas; die Johannesevangelie; Paulus se briewe; Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament; en Openbaring. Elke deel van die Nuwe Testament vra vrae wat nie noodwendig ook deur die ander behandel word nie.
Die Heilige Gees kom ook aan die beurt, dan vrae oor die kerk voor prof Jan vra: hoe kan ek volgens die Nuwe Testament anders en vir God leef? Verskeie etiese vraagstukke kom aan die bod.
Laastens vra prof Francois: Waarheen is alles op pad? Wat verwag die Nuwe Testament gaan aan die einde gebeur?
Die boek sluit af met ’n lys van boeke wat nuttig vir die leser kan wees wat verder wil lees, wat die waarde van die boek selfs nog meer verhoog.
Dié boek word aanbeveel vir elke gelowige wat moeite met die Nuwe Testament wil maak. Jy gaan nie teleurgesteld wees met hoe die skrywers inligting aanbied wat die Nuwe Testament vir jou gaan ontsluit nie!
Comments