top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Lééf in die liefde

deur Milanie Vosloo Maar die Here het met Moses en Aäron geraas: “Omdat julle nie op My vertrou het nie en nie na My, die groot en heilige God, voor die volk geluister het nie, sal julle nie hierdie volk in die nuwe land in lei wat Ek vir hulle gee nie.“ Numeri 20:12 Dun-draadjie-tye: Dis die naam vir dié tye wanneer ons nou net genoeg gehad het. Vir lang tye kan ons ander se “geite en feite“ aanvaar en verdra ... tot op ’n dag wanneer ons oormoeg en geïrriteerd is en net nie meer lus het om almal se “draadwerk“ met grasie te hanteer nie. Opgehoopte spanning het ons snare dun en ons geduld min gemaak! Die ergste is dat ons in hierdie “ek-het-genoeg-gehad-tye“ bitter min tyd het (of máák!) om na God se stem te luister. Daarom sukkel ons dan meer as ooit om mekaar te verstaan en met liefde te hanteer. En in hierdie proses doen ons nóg meer spanningskade op. Dungesnaardheid kom nie net in ons moderne eeu voor nie. Die groot leier, Moses, het duisende jare gelede ook by die punt gekom waar hy sy humeur verloor het. Vir baie jare moes hy sy volk motiveer en aanmoedig om, te midde van ’n harde woestynreis, positief te bly. Keer op keer het hy na hulle klagtes, verwyte en ontevredenheid geluister en hulle met geduld gelei ... tot by die waters van Mériba. Dis hier waar Moses sy ek-het-genoeg-gehad-stadium bereik en uit frustrasie teen God se opdrag optree. Toe die Here vra dat hy met die rots sal praat, slaan Moses dit twee keer terwyl hy woedend op die volk skree. ’n Mens verstaan nogal hoe die arme Moses gevoel het. Tóg leer die res van die geskiedenis ons dat God nie sy ongehoorsaamheid ongestraf laat nie. Moses kon nooit sy voete in Kanaän – die beloofde land van melk en heuning – sit nie. Hiermee sê God ook vir ons dat, alhoewel Hy deernis met ons het, Hy nie ons verkeerde optredes goedkeur nie. Hy vra van ons gehoorsaamheid en liefde onder alle omstandighede. Sulke gehoorsaamheid bring ongekende seën mee! Hoe kan ons dit regkry om in sulke potensiële konfliktye tóg met liefde teenoor ander te leef?

  • Plaas elke oggend die Heilige Gees in beheer van jou emosies, jou hart ... jou hele menswees.

  • Smeek Hom deurentyd om aan jou die nodige wysheid en begrip vir elke situasie te gee.

  • Bid dat Hy jou hart vol begrip, deernis en vergifnis vir ander sal maak.

  • Vra veral dat Hy jou – nou meer as ooit – die nodige selfbeheersing sal gee.

Kom ons bid dat die Gees ons ook in spanningsvolle tye ontvanklik sal hou vir sy stem en gewillig sal maak om (stééds!) sy opdrag uit te voer: Dié opdrag wat sê dat ons ons naaste soos onsself moet liefhê. Vader van Genade, help ons om, verál in moeilike tye, ons krag in U te vind, ons vrede by U te soek en ander soos U lief te hê. Uit: Siel van ʼn Vrou, CUM


 

KONTAK ONS

Kontak ons gerus met enige vrae of voorstelle. Gebruik die besonderhede hiernaas of skryf sommer jou boodskap in die vorm hieronder.

Jou boodskap is gestuur!

e | info@ekerk.org

c | 083.670.9974

f  | 087.123.4567

Posbus 11315, Aston Manor 1630

52 Weltevreden Crescent, Kempton Park

Regnr:  2004/011580/08

  • w-facebook
  • Google Clean
  • w-twitter
  • w-vimeo
  • YouTube - White Circle

​© Kopiereg 2012 Ekerk Vereniging

bottom of page