Wanneer sendelinge sterf
deur Stephan Joubert Werner Groenewald en sy twee kinders is wreed vermoor deur die Taliban daar in die stad Kabul oor die afgelope naweek. Die rede: hulle is uitgewys as mense wat sendingwerk onder Moslems doen. Wat ’n verskriklike prys om te betaal! Maar Werner sou dit dalk nie anders wou hê nie. Soos wat ek hom van sy studentedae af as teologie student onthou, was Christus tot heel aan die einde van sy lewe die groot vuur in sy hart en ook in die harte van sy familie. Werner het juis eenkeer gesê: “We only die once, so it might as well be for Jesus!” Dit bly nogtans tragies en so hartseer! Mens het nie woorde nie. Nogtans onthou jy in sulke oomblikke dat Jesus glashelder was oor die feit dat geloof nie aldag maklik of veilig sal wees nie. Het Hy dan nie juis in Lukas 10 gesê Hy stuur ons soos lammers tussen die wolwe in nie? Maar Hy het ons ook aangesê om elke dag te bid: “Bewaar ons van die Bose.” Kom ons doen dit met oorgawe vandag vir ons huismense en vir alle gelowiges. Kom ons bid met oorgawe dat die Here sy kerk sal dra en bewaar. Kom ons vertrou die Here met ons ganse lewe. Dan kan ons saam met Paulus in Romeine 14 uitroep dat ons slegs vir Jesus leef en ook uiteindelik vir Hom sal sterf.