Maak ’n Kopskuif deur Dr Caroline Leaf [resensie]
deur Marius Nel Jou denke beïnvloed jou gesondheid, geluk en geestelike lewe — Detoks jou brein in 21 dae Ons dag sien hoe navorsing oor die brein met rasse skredes vorder. En dr Caroline Leaf is iemand met die gawe om die resultate van dié navorsing vir gewone mense te ontsluit. Maar selfs nog belangriker: sy doen dit vanuit ’n Bybelse hoek sodat sy voortdurend ook die Skrif bybring wanneer sy praat oor wat ek en jy kan leer oor hoe ons met ons brein saamleef. In haar vorige boeke het sy vertel wat die navorsing se resultate is. CUM het ook daarvan in Afrikaans vertaal. In dié boek gaan sy nou ’n entjie verder en sy vertel jou wat jy kan doen om jou brein te detoks. Jy kan jouself siek dink, sê die breinkenners. Jou denke is ’n kragtige mag. Jy is nie ’n slagoffer van jou biologie nie; jou brein is onder jou beheer. Wanneer jy dink, bou jy gedagtes wat fisiese stowwe in jou brein word. Elke oggend wat jy wakker word, het jy nuwe selle wat in jou brein gebore is en wat jy vandag gaan dink, bepaal wat van dié selle word. Dit beteken dat geluk nie iets is wat buite jou lê nie. Dis nie iets wat met jou gebeur nie. Dit is iets wat jy laat gebeur. Moet ook nie glo dat as ’n oorerflike siekte in jou familie loop, soos Alzheimers of Parkinsons, jy dit gáán kry nie. Jy kan jouself siek dink! Jy kan gelukkig wees en vrede ervaar, selfs in die moeilikste omstandighede. Dit hang van jou perspektief af, nie van wat met jou gebeur nie. As jy geleer het om negatief te dink, kan jy jouself aanleer om positief te dink. En daarom kan jy angs en depressie oorkom, deur jouself te leer om positief te dink. Om jou gedagtelewe te ontgif, moet jy onthou dat dit jou gedagtes is wat in werklikheid jou brein verander. Jy moet dus bewustelik begin doen wat jou brein op ’n nie-bewuste vlak doen, om gedagtes te bou wat realisties en positief is. Jy kan dit doen want jy beheer jou brein; jou brein beheer jou nie. Leer om jou brein in vyf stappe aan te skakel: versamel, gefokusde nadenke, skryf, herbesoek en aktiewe uitreiking. Hier het jy ’n puik vertaling van ’n belangrike werk wat jou lewe indringend kan verander, gebaseer op Bybelse beginsels. Want dit is belangrik: die beginsels wat kontemporêre breinnavorsing aantoon, kom ooreen met eeueoue Bybelse beginsels. Ek het die boek stimulerend gevind, nuttig vir mense wat hulle lewensgehalte wil bevorder.