Polish en roes...
deur Felicia Lategan Die HAT is wonderlik. Verklarings vir legio woorde. Begrippe word verstaanbaar gemaak soos die volgende: Korrosie: verwering deur roes, water en wind. Roes: rooi- of bruingeel bedekking wat aan die oppervlak van yster of staal ontstaan, deur verbinding met suurstof. Anker: swaar ystervoorwerp wat gebruik word om ’n skip vas te lê. Anderdag lees ek ’n vriend se e-pos na aanleiding van ’n tragiese gebeurtenis: “Sy’s ’n sterk anker wat polish nodig het. Die jiggie goed moet af sodat sy weer kan operate. Die ou korrosie smoor en maak dood. Mens kan nie met oorgawe leef as die anker nie polish kry nie... polish is nodig vir skoonkom en balans. Sy kan nou self besluit waar sy geanker wil wees want net die beste waters is haar werd.” Brak water is nie goed vir ankers nie. Sy is ’n spreekwoordelike skip wat swaar trek aan ’n anker met onewe oppervlak. Roes, mengelmoes van kleur. Grof en lelik. Beskadigde goods. Sy is blootgestel aan die ontnugtering van teleurgestelde hoop. Maar sy kies wéér om hoop in te asem, die verbintenis met suurstof uit te daag. Die Anker wat lewe gee sal gemaklik opsetlik, vaslê in ’n hawe vol uitdagings - polish van Gees as salf. Die groot Geneesheer. Hy glimlag in die blik van dreigende diep waters. Hy anker weer haar siel. Korrosie en roes sal nie verniel. Dis Hy alleen wat op die water kan vasstrap en uitlig tot die storm bedaar.