top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Jou Maker kan jou weer nuut maak!

deur Helena Smith In die boek "Love does" van Bob Goff vertel hy 'n mooi staaltjie van hulle troukoek. Hy en sy vrou was bloedjonk en brandarm toe hulle getroud is. Hulle troue was ook nie 'n deftige affêre nie. Sy vrou was egter mal oor mooi troukoeke en so het Bob besluit om sy dollars om te draai en vir sy aanstaande 'n droomtroukoek te bestel. Toe hy die dag van die troue by die onthaalsaal kom, sien hy die ongelooflike mooi troukoek. Iemand was besig om die pronkstuk in 'n trollie oor die hobbelrige parkeerterrein te stoot. Asof in stadige aksie, sien hy hoe die trollie oor 'n hobbel ry en die volgende oomblik trek die troukoek deur die lug! Oomblikke later le die troukoek in n hoop gemors op die parkeerterrein. Bob moes ten spyte van sy teleurstelling, gou 'n plan maak, want daar was nie tyd of geld om 'n nuwe troukoek te bak nie. Hy vra toe die man van die bakkery om hom te help om die troukoek van die grond af te skraap en so mooi as moontlik aanmekaar te las. Die man van die bakkery laat kom toe nog 'n groot houer met versiersuiker van die bakkery af. Hy het die flop van 'n troukoek pragtig aanmekaar gelas en met nuwe versiersuiker toegesmeer. Dit het weer splinternuut gelyk. Natuurlike het die huweliksgaste maar gewonder toe hulle dalk 'n klippie of 'n stukkie gruis in hulle stukkie troukoek kry! Voel dit dalk vir jou asof jou lewe 'n groot flop is? Asof dit dalk, soos Bob se troukoek, gebreek en 'n groot gemors is? Ek het vir jou goeie nuus! Net soos wat daardie troukoek met groot omsigtigheid herstel is, kan God lewens herstel. Omdat Hy jou ongelooflik liefhet, kan Hy die brokstukke van jou lewe bymekaarskraap en jou nuut maak. As dit vandag vir jou voel dat nie eers 'n eierlepel die brokstukke van jou lewe van die grond af kan tel nie, vertel God daarvan en vra Hom vir herstel en nuutmaak. In Jesaja 1:18 staan daar: "Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder. Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het." Wat kan ek en jy van ons kant af doen? In Jesaja 1:19 staan daar, dat ons Hom maar net moet gehoorsaam en toelaat dat Hy ons help.

bottom of page