Wintertye in mense se lewens
deur Helena van Emmenis Elke mens gaan op ’n stadium van sy lewe deur ’n wintertyd waar alles om jou vaal, dor en uitsigloos lyk. Wat is die goed wat jou deur hierdie tydperk dra? Wanneer ’n mens deur diep, donker waters gaan, moet jy soek na ankers want jy wil nie verder meegesleur word nie. Dis goed om drome te hê solank jou voete stewig op die grond geanker bly as jou drome aan skerwe spat. In my geestesoog sien ek ’n prentjie van ’n hangbrug oor ’n rivier — daar is nie ’n ompad nie. Jy moet oor dié brug. Waar die brug begin, is dit stewig, maar soos jy aanskuifel, verloor jy die vastigheid en ervaar jy die onsekerheid en wankelrigheid van die middelste deel van die brug. Dit maak jou paniekerig. Jy soek sekuriteit — hierdie deel wil jy so gou moontlik agter die rug kry. As jy weer die vastrapplek aan die oorkant bereik, weet jy jy kan weer aangaan. Dit is ’n nuwe begin. Die lewe is soos ’n stel trappe. Jy moet elke trappie een vir een klim, sonder dat jy een daarvan oorslaan. Soms trap jy heeltemal te vinnig en dan stamp jy jou toon dat dit bloei, en dis lekker seer! Maar om bo te kan uitkom, moet jy die trappies klim en as ’n leerskool gebruik. In die wintertye moet alle emosies soos hartseer, woede en vrees wat in hierdie swaarkrytyd opwel, in hul volle intensiteit beleef word. As jy emosies onderdruk of ontken, betaal jy dikwels later ’n duur prys daarvoor — dit kan byvoorbeeld tot depressie lei. Moenie probeer om hierdie emosies alleen deur te werk nie. Praat met iemand wat jy kan vertrou en kry (indien moontlik) professionele hulp. ’n Ondersteuningstelsel is ontbeerlik. Dikwels vind jou grootste groei deur jou grootste hartseer plaas. Probeer daarom so gou moontlik die “goeie” raaksien wat hieruit kan vloei, anders is hierdie swaarkry sonder sin. Waak daarteen om leuens, wat deur ’n skewe persepsie van die situasie ontstaan, te koop. Dis dikwels die skadelikste. Onthou dat God jou nie hierdeur straf nie, en jou ook nie vergeet het nie. Pleks van te vra: “Waar was God?” moet ons eintlik vra: “Waar was sy kinders?” want, “soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle.” Sien die mense raak wat God in die tyd op jou pad stuur. Ek dink ons kyk oor die algemeen verkeerd na die lewe. Ons is onverskillig daaroor. Ons glo die lewe is ons reg. En eintlik is ons maar net hier op aarde vir God en ons medemens. Ek dink ons moet die ingesteldheid kry dat ons menswees glans en liefde sal uitstraal. Elkeen wat in ons oë kyk, moet ons miskyk, maar God raaksien. Ek kan slegs transformeer as ek die Transformeerder van die wêreld toelaat om my te herskep dat ek ’n instrument sal word. Ons raak dikwels sonder moed, sonder asem, omdat ons alles ons eie pogings probeer maak. Ons moet weer nederig raak en die Bron van alle planne en nuwe aksies in ons lewe erken.