top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Jesus: jou versekeringspolis?

deur Johan Smith Daar word gereeld ’n baie vals beeld van Christenskap geskep. Die persepsie kan geskep word of bestaan dat as jy jou lewe aan Jesus oorgee en Hom volg dat jy in is vir ’n lewe sonder terugslae, teleurstellings en pyn. Jesus, sonder dat mense dit so bedoel, word beskou en gebruik as ’n tipe van versekeringspolis teen seer en terugslae. Dis doodgewoon nie waar nie. Dis juis die tipe van persepsie wat maak dat baie mense met ’n geloofkrisis sit die oomblik wat dit moeilik, sleg of swaar gaan. Dan werk die polis nie. Dan worstel jy met waar God is en het Hy jou werklik lief. Die duiwel takel jou af met allerhande leuens van ’n God wat ver is en afwesig is wanneer jy broos is en deur moeilike tye gaan. Dis dan wanneer jy maklik hoop verloor en die handdoek wil ingooi. Tye van nie-verstaan is deel van menswees. Tye van “waarom” en “hoekom” sonder om gedetailleerde antwoorde te ontvang is deel van elke mens se lewe. Omdat dit broos tye is, is dit tye wat die vyand graag gebruik om hoop by jou te kom steel. Kyk na die lewe van Josef met al sy teleurstellings en terugslae. Kyk na Moses en al die klagtes en aanvalle wat hy van die volk moet trotseer kort nadat hulle Egipte verlaat het. Daniël in ’n leeukuil klink nie vir my baie romanties nie. Nog minder Petrus en Silas wat in ’n tronksel in voetboeie sit. Paulus was amper meer in die tronk as daar buite. Uiteindelik kom God vir elkeen van hierdie manne deur. Al kry ons nie altyd antwoorde op al ons hoekoms en waaroms nie, verwag God steeds dat ons Hom kan vertrou ten spyte van geen antwoorde of stilte van sy kant. Vertroue is juis om vas te hou in swaar tye. Vertroue is juis om soos Josef, Petrus en vele ander aan God vas te hou in moeilike en swaar tye. Jesus, jou versekeringspolis teen swaarkry? Nee! Maar Hy is absoluut dit werd om vertrou te word en om gevolg te word.

bottom of page