top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Van vrees na vryheid

deur Dries Cronje

Ek lees vanoggend Stephan se Kernkrag stukkie oor vrees, en hoe ons bang is, en hoe ons moet ophou. En ek het net weer besef... Hierdie is dalk die heel belangrikste boodskap oor hoe ons moet lewe wat God aan ons kommunikeer deur die Bybel. Dit is die “opdrag” wat God die heel meeste in die Bybel herhaal... “Moenie bang wees nie!” Christene vandag is bang. Ons is bang vir baie goed... In my wandel saam met die Here en sy mense sien ek gereeld vrees in gelowiges vir die volgende (in myself ook):

  • God se oordeel (ja, dieselfde God wat jou aanmaan om nie bang te wees nie)

  • Twyfel

  • Ander gelowe, of ongelowiges

  • Ander rasse

  • Onreinheid en sonde

  • Finansiële swaarkry

  • Om verkeerd te wees, of verkeerd bewys te word

  • Homoseksualiteit

  • Enige iets New Age

  • Stilte en afsondering

  • Die opbreek van verhoudings

  • Wetenskap

  • Ateïsme

  • Die hel

  • Dwaalleer

  • Oorlog

  • Misdaad...

En die lys gaan aan! As daar iets is om voor bang te wees het navolgelinge van Jesus al ’n verskoning gevind om daarvoor bang te wees. En eintlik weet ons almal baie goed dat die vrugte van die Gees die teenoorgestelde van vrees is... Dit is liefde, vrede, vreugde, ensovoorts. Dalk is dit tyd dat ons ons fokus verskuif. Ons is verantwoordelik vir ons eie gedagtes. En wat ons dink en ons gedagtes mee besig hou elke dag is super–belangrik. Dit het ’n reuse effek op hoe ons voel elke dag, hoe ons die koninkryk van God uitleef elke dag, en hoe ons toelaat dat God se beloftes in ons lewens waar word elke dag. Onthou jy nog wat vir Israel 40 jaar in die woestyn vasgekeer gehou het? Dit was vrees vir die beloofde land! Dit is dalk ons grootste vrees as gelowiges. Dalk is ons bang om die beloofde land binne te gaan, bang om in God se koninkryk in te gaan... Kwantum fisici (quantum physicists) argumenteer en bewys dat ons deur ons gedagtes ons realiteit skep... of kies selfs. So dalk net is daar baie goeie rede vir God se mees–herhaalde opdrag. Jesus se woorde aan die offisier in Matteus 8 is ook van toepassing op my en jou: “... wat jy geglo het, sal gebeur.” Hy herhaal die woorde aan die twee blindes in Matteus 9: “Wat julle glo, sal gebeur.” Moenie dat Job se woorde vir in jou lewe waar word nie. Job sê in Job 3:25: “Die dinge wat ek nog altyd voor bang was, het nou met my gebeur.” As mens die heeldag in jou kop besig is met die dinge waarvoor jy bang is, dan trek jy dit aan. Jy is soos ’n magneet. En jy het ’n keuse... So, hoe lyk dit alles prakties...? Dit help nie ons weet wat ons moet doen, maar ons weet nie hoe om dit prakties in ons lewens te doen elke dag nie. Hoe kan jy prakties elke dag kies om nie bang te wees nie, maar om eerder te fokus op dit wat goed en mooi en reg is? Kom ons lees in Filipense: “Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ’n goeie lig stel.” — Filipense 4:8 (1983) En daar het jy dit. Instede van jouself bekommer oor geld, dink aan Jesus se woorde in Matteus 6:32 — “As julle dit doen, tree julle op soos mense wat God glad nie ken nie. Julle het mos ’n Vader in die hemel wat presies weet wat julle nodig het. Hy sal sorg dat julle dit alles kry.” En ek bedoel dit... Wanneer jy jouself vang in ’n negatiewe of bekommerde geadagte, skuif dadelik jou fokus. Dink aan die belofte van Jesus. As jy in ’n verhouding is wat besig is om agteruit te gaan... Waaraan dink jy? Dink jy aan al die verkeerde dinge in die verhouding? Alles wat sleg en verkeerd is? Of dink jy aan al die goeie aspekte van die ander persoon? Maak jy lysies met al die dinge waarvoor jy dankbaar is in die ander persoon? Daar is vir elke vrees wat jou geluk en toekoms steel iets positiefs waarna jy jou aandag kan verskuif, selfs dalk ’n belofte van God in die Bybel. Hoekom maak jy nie ’n punt daarvan om jou groot vrese te identifiseer en dan die gepaste belofte in die Bybel te gaan soek nie...? En dan skuif jy doelbewus elke dag jou gedagtes vanaf jou bekommernis na die belofte. As jy nie iets in die Bybel kry nie, wees kreatief! Dink aan wat jy eerder graag aan sal wil dink. Sê vir jouself: “Ek weet waarvoor ek bang is... En ek gaan nie my aandag daaraan gee nie. Waarvoor ek hoop is ...” Dink aan wat jy graag wil sien waar word in jou lewe. En glimlag! Hoe meer jy dit doen, hoe makliker sal dit word, en hoe meer sal jou gedagtes bedaar, en jou liefde, vrede en vreugde groei...

bottom of page