Liefde doen
deur Johan Smith Donald Miller, iemand wat miljoene boeke verkoop het en een van die gewildste skrywers in Amerika is, sê die volgende oor Bob Goff (’n prokureur): He loves effortlessly. I don’t know how to explain Bob’s love except to say it is utterly and delightfully devastating. As ek dit lees, word ek al reeds uitgedaag om meer soos God lief te hê — ruimer en vrygewiger. Ek dink dadelik aan die Skrifgedeelte wat sê dat die volgelinge van Jesus aan hulle liefde vir mekaar geken sal word. Ek dink onwillekeurig aan soveel konflik in die kerk en onder christene, soveel mense wat veg vir posisie, soveel tweespalt, soveel bible bashing en ek kry skaam daaroor. Dalk verstaan Bob, die regsgeleerde, soveel meer daarvan as baie geleerde geestelikes, as baie ander wat hulself christene noem. Sien, hy het ontdek daar is meer in die lewe as Bybelstudie. Daar is iets soos “doen die Bybel” of “leef die Bybel”. Teoretiese kennis, Griekse of Hebreeuse woorde verander nie lewens nie. Soos hy tong in die kies dit uitspel oor die liefde tussen ’n ou en ’n meisie: Wouldn’t it be a horrible thing if we studied the ones we loved instead of bonding in deeper ways by doing things with them? I don’t think knowing what her name means in Greek is going to help me love her more. In fact, they have a name for guys who just study things about a person they like, but don’t do anything about it — they’re called bachelors. Aan die einde van die Groot Opdrag in Matteus 28 is dit mos nie toevallig dat Jesus belowe dat Hy elke tree saam met ons gee nie. Hierdeur demonstreer Jesus vir ons liefde en dit is Sy teenwoordigheid in ons lewens. Die feit dat Hy 24/7 elke tree saam met ons stap en ons lei en wanneer nodig, vashou. Nou kom die groot uitdaging: ek en jy moet soos Jesus wees, ons moet liefhê soos Hy. Verseker beteken dit dan dat ons teenwoordig moet wees in ander mense se lewens. Dit beteken ons moet fisies daar wees vir hulle. Ons moet konkreet help waar daar nood is, ons moet luister as daar hartseer is, ons moet tyd spandeer en ons energie gee soos Jesus vir ons gedoen het en elke dag steeds doen.