Dit is ek nou!
deur Felicia Lategan Wanneer vooruitsig of hoop kwyn, raak ons klein; in gees en postuur. Ons loop kop af en bou konneksie met die grond omdat dit is hoe ons voel — laag en plat. Soms ongelyk en klipperig. Ons hart, siel en totale menswees voel verslaan deur die klewerige gewig wat ons skouers beset. Die lewe klop soms nie. Nie in jou hart, kop of gees nie. Niks werk uit nie. Moedeloos en magteloos. Genoeg gehad. Hoekom. Waar is God? Liewe vrou, ek wens ek kan vir jou ’n venster na my siel open, ’n kykie in my spasie van wat kan gebeur wanneer God die lewensstuurwiel neem. Op daardie plek waar geen verstaan of redenasie inpas nie; waar net jy en niks is. Waar onbeantwoorde vrae dringend (probeer) vasklou aan geloof wat grys is. Dis dáár waar Hy jou ontnugtering en seer omvou met genade. Maar jy moet Hom toelaat... Oorgegee is die beste plek om te wees al voel dit nie so nie. “Here, hier is ek nou. Ek weet nie meer nie en het nie antwoorde nie. Ek kan niks orkestreer nie. Help my binne hierdie chaos en seer...” Hierdie gebed het werklikheid geword, ’n rustigheid het diep binne my kom lê. Ek het onthou dat Hy sê Hy het my op my naam geroep, ek ís syne! Dis ’n uitgemaakte saak, ondebatteerbaar. God is nie ’n man dat Hy kan lieg nie, Hy het dit op skrif gesit vir my en jou. Postuur en gees dra weer stilettos! Hart en siel is in rooi getooi! Vooruitsigte en klippe is soms nog grof, maar ek kies om te dans in die stof en eerder ’n tornado van gekneusde dog lewendige geloof te laat tol! Vry en anders-nuut... dit is ek nou!