Waarom Soveel Bybelvertalings? deur Jan van der Watt [resensie]
- Aug 8, 2014
- 2 min read
deur Marius Nel Die hoe, wat en waarom van Bybelvertalings Indien iemand oor Bybelvertalings kan praat, is dit prof Jan van der Watt, ’n Suid-Afrikaanse teoloog wat ’n internasionale impak op die studie van die Nuwe Testament uitoefen en ’n kenner van vertaalkunde. Met die oog op die verskyning van CUM se Nuwe Lewende Vertaling asook die Bybelgenootskap se beoogde 2016 Direkte Vertaling is die tema uiters relevant. Afrikaanssprekende mense is nogal konserwatief, veral op die platteland, wat beteken dat hulle enige verandering en enigiets wat nuut is uit beginsel teenstaan. En dit geld veral wat nuwe vertalings van die Bybel betref! Die vraag na die vertaling van die Bybel is vir gelowiges belangrik omdat dié Boek vir gelowiges gesaghebbend is. Dit is ’n boek met ’n spesiale boodskap, wat vertel van God se pad na versoening met die mens. Daarom is dit belangrik vir ons om te verstaan wat in die Bybel staan, en om seker te wees dat die vertaling wat ons gebruik die betekenis getrou weergee. Prof Jan skryf oor verskillende filosofieë of denkwyses agter vertalings. Sommige wil letterlik of direk woord-vir-woord weergee wat die oorspronklike skrywer in Hebreeus (Ou Testament) of Grieks (Nuwe Testament) geskryf het. Ander wil ’n dinamiese ekwivalent van die betekenis bied, en nog ander wil die betekenis interpreteer. Vir al dié tipes vertalings is daar ’n behoefte. Die regte vraag: is dié vertaling geslaagd in terme van die doelwit wat daaraan gestel is? Is dit ’n goeie betekenisgeoriënteerde of direkte vertaling? ’n Ander probleem is dat ons nie die oorspronklike manuskripte tot ons beskikking het nie. Ons het slegs kopieë wat met tyd met die hand van die oorspronklike gemaak is. En daar is talle verskille tussen die onderskeie kopieë. Die wetenskap van tekskritiek poog om ’n grondteks uit dié verskille saam te stel wat wetenskaplik verantwoord is. Die skrywer verduidelik wat dié moeilike proses behels. Die boek kom dan by die plek waar jy hoor wat die bedoeling van onderskeie Afrikaanse en Engelse vertalings is, en hoe suksesvol dit was. Hier het jy ’n tydige boek wat oor ’n belangrike onderwerp handel, wat gelowiges toerus om ingelig saam te gesels oor die kwessie van Bybelvertalings. Die boek is uitstekend geskryf deur ’n kenner wat die gawe het om ingewikkelde inligting só aanbied dat ons as gewone lesers dit gemaklik verstaan. Die uitgewers doen die Suid-Afrikaanse publiek ’n guns om ’n boek van dié gehalte tot beskikking van Christene te stel!

Comments