top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Jy kan ’n verskil maak deur Stephan Joubert [resensie]

deur Marius Nel Geloofsverhale van gewone mense wat buitengewoon leef Dié boek is vir gelowiges wat hard probeer het om dissipels van Jesus te wees maar tot die gevolgtrekking gekom het dat hulle dit nie maak nie. Geloof is nie vir gewone mense nie en skuldgevoelens is die voorland vir “gewone” gelowiges omdat ons nie goed genoeg is nie. Dis net die grotes en beroemdes wat dit regkry om voluit vir die Here te leef! Stephan, redakteur van ekerk, skryf: Te veel gelowiges voel skuldig omdat hulle nie voldoen aan ander se geestelike verwagtings nie of omdat hulle dit nie regkry om volgens die “resepte” te leef wat die kerk uitdeel oor hoe ’n “regte Christen” behoort te lewe en op te tree nie. Godsdienstige clichés oorheers ons lewe en stereotipes bepaal hoe ons ons lewe beleef. Die geheim is om op te hou om ’n “groot storie” vir die Here te leef, om “iets beters” vir Hom te doen. Jy moet eerder jou gewone lewe voluit vir Hom lewe. Gewone verhoudings en onbelangrike dade op aarde vind weerklank in die hemel. Doodgewone mense op soek na ’n opregte, eenvoudige roete saam met Jesus maak AL die verskil in die wêreld! Dié boek wil die las van ons skouers aflig en ons toestemming gee om ons gewone lewens tot eer van die Here te leef. Omdat dít buitengewoon is. Die agt hoofstukke kyk elk na ’n bepaalde faset van dissipelskap, elke keer vanuit ’n nuwe hoek. En die impak daarvan word vergroot deur die tweets van gewone mense, mense wat hulle insigte in een lyn met jou deel oor wat dit in hulle lewe en wêreld beteken om ’n dissipel van Jesus te wees. Daarmee saam kry jy die verhale van “geloofshelde,” gewone mense wat die geheim ontdek het om kerk verby Sondag se diens te neem na waar hulle lewe en werk en speel. Van die insigte oor dissipelskap wat jy hier kry, sluit in: Ek het gehoor jy moet iets vir die Here doen maar nou het ek geleer die belangrikste is om aan Jesus se voete tot rus te kom. Frustration equals a busy life headed in the wrong direction. Of: ek het gehoor jy moet jou lewe uitsorteer maar nou ervaar ek: Gód maak my nuut. En: ek het gehoor jy moet mense bekeer maar nou besef ek dat ek net oor die straat moet stap en Jesus moet toelaat om mense aan te raak. En elke beginsel word toegelig met dissipelskap-stories. Ek koop uit beginsel enige boek wat Stephan Joubert publiseer en het nog nie een keer my geld gemors nie. En jy gaan ook nie met dié boek nie. Weet egter net: die boek gaan met jou kop smokkel. Jy gaan anders begin dink terwyl jy dit lees. En jy gaan anders lyk wanneer jy klaar is. Jou lewe gaan ’n verskil maak!

bottom of page