top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Verwoestende woorde vloei soms vanuit goeie intensies

deur Kobie Erasmus Deur die hartseer, teleurstelling, verwardheid en veroordeling in die oё van ’n geliefde en kort daarna in dié van ’n nuwe kennis, was ek opnuut herinner en deur my gewete gewaarsku dat daar min wapens so skerp en verwoestend soos die mens se tong is. In die Bybel word dit onder andere vergelyk met ’n vlym skerp wapen asook ’n verwoestende vuur. Die prentjie wat by ’n mens opkom wanneer mens hiervan in die Bybel lees is gewoonlik ’n dié van ’n persoon met ’n kwaadwillige doel voor oë. Die prentjie van die persoon met die goeie intensies en ondeurdagte woorde kom nie so gereedelik by ’n mens op nie. “Hoekom het jy dit gedoen? Jy is mos ’n kind van die Here en kinders van die Here doen mos nie sulke goed nie,” het ’n vriend uit haar gemeente vir my geliefde familielid gevra. Die vraag het gekom nadat sy haar lewe probeer neem het omdat sy worstel met depressie. ’n Nuwe kennis vertel met seerkry en teleurstelling van woorde wat haar geoffer is nadat sy erken het dat sy bang en vol vrees is nadat haar huis beroof was terwyl sy alleen tuis was: “As Christen behoort ons nooit vrees in ons hart te dra nie, vrees kom nie van die Here af nie en ons weet mos dat Hy ons oppas.” Hierdie woorde het in beide gevalle gelei tot ’n gevoel van veroordeling, wanhoop en selfverwyt. Ons staan dikwels gereed met raad en “oplossings” om die splinters uit mekaar se oё te probeer uithaal. Dit is dan wanneer ons met ons goeie intensies die risiko loop om te breek eerder as te bou met ons “wyse raad”. Ons verruil die stilswye en verstaan van ’n liefdevolle oor wat hoor en luister en woordeloos ondersteun vir kritiek en veroordeling. In Kolossense 3:13 lees ons die volgende: “Gee mekaar ’n kans sonder om mekaar met kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al julle foute verby gekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie.”

bottom of page