top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Gaan vir Vuja Dé

deur Stephan Joubert Déja vu is daardie gevoel dat jy vantevore al op ’n plek was, selfs al was jy nog nie daar nie. Dis nogals intimiderend. Wat van ’n vuja dé gevoel? Wat sou gebeur as jy net mooi andersom begin leef? Wat as jy so begin leef asof jy die lewe elke dag vir die heel eerste keer beleef? Dink jy nie dit sal jou totale ingesteldheid tot die lewe en tot almal rondom jou kop onderstebo keer as jy daagliks oor begin met God, jou huweliksmaat, jou vriende, jou kollegas — ja, sommer met alles en almal rondom jou nie? Sal dit nie fantasties wees as jy elke aand jou wrokke en woede vergeet en daardie swart notaboekies wegpak wat jy in jou hart stoor nie? Sal dit nie aangrypend wees as jy elke dag kan afrond met vreugde en elke oggend nuut en asof vir die eerste keer begin nie? Wel, hier’s reuse brokkie goeie nuus: God doen elke dag vuja dé met ons. Hy begin daagliks van vooraf oor met ons. Sy genade is elke oggend nuut, soos wat Klaagliedere 3 vir ons vertel. Die Here vernuwe ons elke dag innerlik, soos wat Paulus in 2 Korintiërs 4:16 sê. Dus is dit nie maar net ’n mooi woordspel om daagliks te verskuif vanaf déja vu na vuja dé nie. Ek vermoed dit is ’n Goddelike feit... en ’n opdrag! Dit vra daaglikse keuses om in kinderlike eenvoud en afhanklikheid van ons Hemelse Vader te leef. Dan verras Hy ons om elke hoek en draai.

bottom of page