Gerief en luukshede versus diep geluk
deur Johan Smith Matt 16:26 sê so reguit en kragtig: “Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?” Katie Davis is ’n jong Amerikaanse meisie, in haar middel twintigs wat die luukshede in die VSA verruil het vir die harde lewe in Uganda. Dis asof Katie se keuses en lewe uiteindelik vir my ’n nuwe verstaan van die Skrifgedeelte gee. Skielik verstaan ek die gevare van luuksheid en ’n afhanklikheid van geld en besittings net soveel beter. Haar lewe praat so hard dat ek net moet hoor. Ongerief en ’n harde lewe in gehoorsaamheid aan die Here kan heilige grond wees. ’n Lewe sonder gerief, luukshede en gemak kan baie keer nader aan God beteken. Luukshede, gemak en gerief mag nooit ’n einddoel wees in jou lewe nie. Pasop om na iets te strewe wat maak dat jy God se heilige grond mis. I was forever ruined for comfort, convenience and luxury, preferring instead challenge, sacrifice and risking everything to do something I believe in. Ja, sy vind diep vreugde en oorvloedige lewe nie in geld, besittings, gemak, luukshede en gerief nie. ’n Harde lewe, ’n moeilike lewe kan ook een van diep geluk en vreugde wees. Gerief bepaal nie geluk en vrede nie. Gehoorsaamheid aan God alleen lei tot oorvloedige lewe. Om Jesus te volg lei tot ’n vrugbare lewe, lei tot ’n lewe wat Hom verheerlik en jou op ’n plek bring van diep, intense vreugde en geluk en in harmonie met jou hemelse Vader. Is jy nog bereid om op te staan vir dit wat jy in glo? Is jy bereid om luukshede en gemak prys te gee ter wille van gehoorsaam wees aan die Here? Is jy bereid om ’n inruil te maak: ruil jou gerief en gemak vir uitdagings en opofferings? Gemeet aan vandag se norme en standaarde en hoe mense dink oor die lewe, klink dit na gekheid. By God is dit egter wysheid.