top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Die krag van dankbaarheid

deur Dries Cronje Die Bybel leer ons daar is krag in dankbaarheid. Dankbaarheid versterk ons geloof. Paulus het altyd vir die Here dankie gesê wanneer hy vir die gemeentes wat hy geplant het gebid het. “Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink.” — Filippense 1:3 “Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink.” — 1 Tessalonisense 1:2 Ons sien dit ook in Romeine 1:8, Efesiërs 1:15-16 en Kolossense 1:3. Hy het eers vir God dankie gesê en dan namens die gemeentes by God ingetree in gebed. Jesus se geloof was ook direk gekoppel aan dankbaarheid. Vat byvoorbeeld sy wonderwerk met die vermeerdering van die vis en brood in Johannes 6. Jesus bid nie en vra vir die wonderwerk nie, maar sê wel vir God dankie. En dan gebeur die wonderwerk... Toe Jesus by Lasarus se graf aankom en beveel dat die grafsteen weggerol word, kyk hy op en sê vir sy Vader dankie dat Hy (Jesus) verhoor is. Dit was ’n uitdrukking van sy geloof in sy Vader se krag. Hierna beveel hy vir Lasarus om uit te kom en Lasarus stap uit die graf nadat hy vir vier dae dood was. Dit is wys vir die aan die ontvangkant van genade, gebede en wonderwerke om ook dankbaar te wees... In Lukas 17 hoor ons van die melaatse mans wat genees is. Almal word genees, maar net een draai terug en kom sê dankie. Jesus bied dan vir hom iets ekstra as gevolg van sy dankbaarheid. Waar die ander melaatses wel fisies genees is sê Jesus vir die man: “Jou geloof het jou gered.” En dit suiwer oor hy dankbaar was. Ek dink die boodskap is duidelik. Soos ons hier en hier ook gesê het, dankbaarheid kan kragtig werk in jou lewe, en die Bybel beveel dankbaarheid sterk aan. Wees dankbaar. Elke dag.

bottom of page